Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||||||
|
Minister tree op teen Kameeldrift-misdaad
"Daar is ’n persepsie onder Suid-Afrikaners dat misdadigers vryheid in ons land geniet, maar dít gaan verander – ons kan nie bekostig om meer nice te wees nie.” Só het mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, Saterdagoggend douvoordag by ’n biddag gesê wat deur die misdaadgeteisterde Kameeldrift-gemeenskap by die Laerskool Die Poort in Kameeldrift, noord van Pretoria, gehou is. Mthethwa het saam met sowat 500 gemeenskapslede en verskeie leraars van kerke in dié omgewing vir nagenoeg ’n uur lank gebid voordat hy sy meegevoel met dié gemeenskap uitgespreek het. “Ek is diep geëerd en dankbaar dat julle my na jul ontmoeting genooi het en ek wil graag my medelye, asook dié van die hele SAPD, aan julle oordra,” het Mthethwa gesê. “Ek is ook hier om julle te verseker dat as ’n gemeenskap soos dié die polisie om hulp vra, ek, die regering en die SAPD nie sal huiwer om alles in ons vermoë te doen om te help nie. “Ons lewe onder wette wat menseregte voorhou, maar hoe kan ons menslik optree teenoor misdadigers wat ons gemeenskappe terroriseer? Ons gaan almal hande moet vat en misdaad saam nóg harder moet begin beveg.” Mthethwa het gesê ’n polisietaakspan van die SAPD-hoofkantoor het reeds Kameeldrift besoek om vas te stel hoe die misdaadvlaag in dié omgewing bestry kan word. “Ons werk tans daaraan om polisiesigbaarheid te verhoog maar ons kan nie net aanhou reageer op misdaad nie. “Ons moet pro-aktief begin raak en ek glo ordentlike misdaadintelligensie sal ons toelaat om rowers en misdadigers op hul eie terrein te beveg. “Daarom gaan ek binne die volgende twee weke ’n permanente pos – dié van hoof van misdaadintelligensie in Kameeldrift – so gou moontlik vul. “Dit sal sy/haar taak wees om uit te vind wié die misdadigers is wat Kameeldrift teiken, wat hul patrone is en waar hulle vandaan kom. Slegs dán sal ons ’n daadwerklike verskil kan maak.” Dr. Willem Pretorius van die NG familiekerk Kameeldrift, en Rüdiger Roach (16), wat verlede maand deur rowers in die skouer en long geskiet is, en wie se pa, Rudi (50), tydens die voorval vermoor is, het ’n memorandum en ’n brief van leerlinge van dié laerskool aan die minister oorhandig. Roach het gister gesê byeenkomste soos dié biddag en die minister se teenwoordigheid gee hom hoop dat die misdaadsituasie in sy omgewing wél kan verbeter. “ ’n Soortgelyke byeenkoms is so twee maande gelede by Doornpoort hier naby gehou en hulle het sedertdien nog nie weer ernstige rooftogte gehad nie, so ek glo dit maak ’n verskil.” Ds. Roelf Opperman, ’n leraar van die omgewing, het Saterdag gevra dat al die kinders opstaan en dat die volwassenes hul hande op die kinders sal lê. “Ons dra ons kinders aan U op Here, en ons vra dat U hulle sal beskerm,” het hy gebid.
|
|||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|