Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||||
|
‘Vat Bok weg en kry klaar’
Die rugbybase moet die Springbok eerder heeltemal wegvat, sê Frik du Preez. Suid-Afrika se rugbyspeler van die eeu het gister uitgevaar oor die “alewige gekerm” oor die Springbok en die besluit dat dié embleem van die nasionale span se groen-en-goud-baadjies gaan verdwyn. Mnr. Makhenkesi Stofile, minister van sport en ontspanning, het eergister ná ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geen doekies omgedraai oor die bedreigde embleem se toekoms nie. Die Springbok sal van die linkerkant van die trui – waar die koningprotea voortaan sal pronk – na die regterkant moet skuif, het Stofile gesê. “Ek stem saam met Naas (Botha). Vat tog net die verdomde Springbok weg en kry klaar,” sê Du Preez. Volgens hom is dit veral hartseer dat die Springbok nie meer op die tradisieryke kleurbaadjie gaan verskyn nie. “Dit voel of hulle (die rugbybase) rugbyliefhebbers wil slaan waar dit die seerste maak. “Ek heg groot waarde aan my Bok-baadjie en niemand kan dit van my wegvat nie. Dit is net jammer dat iemand soos Luke Watson ook ’n Springbok-baadjie het.” Mark Andrews, oud-Bok-slot, sê die embleem kom weens goedkoop politiekery in die gedrang. “Ek is bly nugter denke het in ’n mate geseëvier en dat die Bok nog op die trui gaan verskyn. “Die baadjie is ’n ander saak. Die span gaan steeds as die Springbokke bekend staan, maar gaan blomme op hul baadjies dra. Dit maak nie sin nie.” Andrews, ’n Wêreldbeker-held in 1995, meen die regering moet eerder met groter toewyding by rugby op voetsoolvlak betrokke raak. Wynand Claassen, voormalige Bok-agtsteman en -kaptein, sê die belangrikste is dat die Springbok op die trui bly. “Om die Springbok op die baadjies weg te vat is niks anders as ’n politieke oorwinning vir diegene wat dit teenstaan nie. “Die regering wil bloot ’n punt bewys. Dit is dalk tyd dat die ondersteuners ook ’n punt bewys deur wedstryde te boikot.” Die voormalige Springbok-flank Burger Geldenhuys sê hy hoop Stofile-hulle “gaan nou rus vir hul siele kry”. “Die baadjie se waarde en aansien gaan ongelukkig nou aansienlik minder wees.” Die departement van sport en ontspanning kon intussen gister steeds nie met die registrasiebesonderhede van die Bok-embleem vorendag kom nie, berig Pieter du Toit. Stofile, wat beweer die regering besit die Bok, het eergister beloof om dié dokumentasie beskikbaar te stel, maar sy woordvoerder kon dit sedertdien nie “opspoor” nie. Dr. Owen Dean van die regsfirma Spoor & Fisher sê hy en twee ander regsgeleerdes kon dié registrasie nie opspoor nie. “Dis amusant om na hulle (Stofile en sy departement) te luister, maar as hulle bewyse het, moet hulle dit voorlê.”
|
||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|