Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
WNNR muilband eie kenner
Die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het ’n voorste wetenskaplike verbied om sy voete op die raad se perseel te sit oor ’n “politiek gelaaide” lesing wat hy Dinsdag oor Suid-Afrika se watergehalte by ’n beraad sou lewer. Die uitvoerende raad van die WNNR het dr. Anthony Turton, ’n internasionaal bekende politieke en sosiale wetenskaplike, Maandagaand laat weet hulle het sy kernvoordrag, A Clean South Africa, aan die beraad onttrek. Turton, leiernavorser van die WNNR se eenheid vir natuurlike hulpbronne en die omgewing, sê in die voordrag al Suid-Afrika se water is reeds toegeken, dat dit in so ’n mate besoedel is dat die sogenaamde “verdunningeffek” nie meer bestaan nie, en dat dié aspekte ekonomiese groei aan bande gaan lê. ’n Afskrif van die voordrag is reeds sedert verlede week in Beeld se besit. Hy meen met dié aspekte in gedagte moet die regering se Asgisa-program (Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa) hersien of aangepas word. Hy verwys ook in die voordrag na die xenofobiese geweld wat vroeër vanjaar uitgebreek het en waarsku dat sulke voorvalle gaan uitkring as die regering nie aan mense se basiese behoeftes vir skoon water kan voldoen nie. Foto’s wat tydens die xenofobiese geweld geneem is, is ook by die voordrag ingesluit. Die uitvoerende raad van die WNNR sê in ’n kort verklaring die raad erken die uitdagings wat bestaan met betrekking tot die land se watergehalte, maar dat Turton “ongefundeerde uitsprake” maak. Die WNNR was ook bekommerd oor die feit dat die foto’s van “brandende slagoffers” van die xenofobiese geweld sensitiewe beraadgangers kon ontstel. Turton het gister gesê die inhoud van sy voordrag is wetenskaplik gefundeer en dat dit wyd onder akademici en wetenskaplikes versprei is voordat hy dit as kernlesing aan die WNNR se uitvoerende hoofde voorgelê het. “Ek was bereid om die foto’s wat kon aanstoot gee uit te haal, maar ek is nie die geleentheid gegun nie,” het hy gesê. “Dit wat ek in die voordrag sê, is die waarheid en was bedoel om opbouende debat aan die gang te sit. “Dit gaan hier om akademiese en wetenskaplike integriteit en ’n morele gewete,” het Turton gesê. Die WNNR sê daar was nie genoeg tyd om die voordrag uit die konferensieboek te haal nie omdat dit op kort kennisgewing onttrek is. Die internetweergawe is gister wyd onder akademici en verteenwoordigers van nie-regeringsorganisasies versprei. Verskeie akademici het hul skok oor die voorval uitgespreek en gevra wat die toekoms van “akademiese vryheid” in Suid-Afrika is. Die WNNR sou gister laatmiddag nog ’n verklaring uitreik, maar het Beeld later laat weet dat hulle met hul eerste verklaring volstaan. Beeld verneem Turton het vandag ’n vergadering met die uitvoerende raad van die WNNR oor sy akademiese toekoms.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|