Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
‘Gee ons gevangenes kans’
‘Met my selfsugtige keuse om my vrou te vermoor het ek in enkele minute van waansin my drie dogters se lewe verwoes. Ek wens ek het destyds gedink aan hoe ek hulle seermaak. Maar ek het nie.” Met trane in sy oë het Alexander Gordon, veroordeelde moordenaar in die Leeuwkop-gevangenis, gister sy berou oor die moord op sy vrou met die gemeenskap van Alexandra, Johannesburg, gedeel. Dít nadat Gordon en drie ander misdadigers wat ernstige oortredings begaan het, hulle by die gevangenis se program vir herstellende geregtigheid aangesluit het. Die vier het deur dié program onlangs ’n emosionele ontmoeting gehad met me. Sandy van der Wel, wie se pa, mnr. Kenneth Bell, op 2 Januarie 2004 in ’n kaping in Boksburg doodgeskiet is. Dié vier was nie by dié kaping betrokke nie. Gister het die vyf wéér byeengekom – maar dié keer om dit as deel van die internasionale week vir herstellende geregtigheid ook met die gemeenskap te deel. Gordon, wat sy vrou “in ’n woede-aanval doodgesteek het”, het hier vertel hoe die ontmoeting met Van der Wel hom met ’n skok laat besef het wat misdaad regtig aan mense doen. “Die grootste uitdaging vir my was om verantwoordelikheid vir my dade te aanvaar. Dit was die keerpunt. “Maar nou wil ek die woede en bitterheid laat gaan. Ek wil nou net probeer om dié mense wat ek seergemaak het heel te maak. Ek wil hê hulle moet mý vergewe sodat húlle kan vry wees,” het hy emosioneel gesê. Sibusiso Msimango, wat 27 jaar tronkstraf opgelê is weens roof en poging tot moord, het onthou hoe hy destyds “net geld gesoek het en nie besef het wat ek aan my slagoffers doen nie”. Vandag weet hy hy het reuse-pyn geskep en blameer hy homself vir die verkeerde besluite wat hy geneem het. Dié dat hy besig is om sy lewe om te keer. Hy het reeds matriek in die tronk geslaag en verlede jaar sy diploma in bemarking verwerf. “Ek is dankbaar vir die regter wat my tronk toe gestuur het. Dit het my gewys ek kán verander. Andersins sou ek steeds geroof en geroof en geroof het,” het hy gesê. Sifiso Sibanda, wat 16 jaar tronkstraf opgelê is weens poging tot moord, het op sy beurt vertel sy seun word vandag 21 jaar oud. “Ek gaan natuurlik nie daar wees nie. En dit is bitter moeilik. Tog het die program my laat besef wat ek gedoen het, en het ek opgehou om my dade te regverdig. “Ek vra net: Moenie aan ons gevangenes dink as diere in ’n hok nie. Gee ons asseblief net ’n kans,” het hy gesê. Dit is juis dié verandering in die misdadigers wat Van der Wel haar tot die gevangenes laat wend, het sy daarna aan Beeld gesê. Hul berou gee haar hoop, sê sy. Háár pa se moordenaars is nooit aangekeer nie. “Nogtans móés ek hulle vergewe. Ek moes die bitterheid en woede agterlaat om weer ’n vervulde lewe te lei, want dit het tot my man en kinders begin aftakel. “Eindelik moet ’n mens kiés om nie ’n slagoffer te wees nie. Ek moes kiés om nie te haat nie.”
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|