Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Verloor gevoel ná skoot
Dit lyk of ’n jong man van Queenswood in Pretoria wat eergisteraand voor sy ouers aan die etenstafel deur rowers in die bors geskiet is, inderdaad verlam is. “Hy het gevoel in albei sy bene verloor en dit lyk nie of hy weer sal kan loop nie,” het mnr. Frikkie Berrangé (22), Netcare 911-paramedikus en ’n jare lange vriend van mnr. Stephan van Staden, gister gesê. Van Staden (22) en sy ouers, mnr. Piet en mev. Francis van Staden, was eergisteraand in die Sunnyview-woonstelkompleks aan die etenstafel toe twee rowers ingebars en hul selfone en beursies geëis het. Mnr. Van Staden sr. wou die rowers konfronteer. Sy seun het opgestaan om hom te keer, waarop een van die rowers hom in die bors geskiet het. Van Staden jr. is eergisteraand in die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria geopereer om die koeël te verwyder wat in sy rugwerwel vasgesteek het. “Die operasie was ’n groot sukses, maar hy sal binne die volgende drie weke nog ’n operasie moet ondergaan, want sy rug het baie seergekry,” het Berrangé gesê. “Hy is tans onder sterk verdowing en is aan ’n ventilator gekoppel. “Hy kan op sy eie asemhaal, maar omdat hy so diep verdoof is, is ons bang dat sy longe kan platval indien ons die ventilator ontkoppel.” Berrangé het gesê Van Staden was voor die skietvoorval ’n baie aktiewe mens wat veral baie lief vir dans was. “Dit sal so ’n jammerte wees as hy permanent in sy bene verlam gaan wees, want hy was mal daaroor om in klubs te gaan dans en hy kon behóórlik dans.” Op sy Facebook-profiel beskryf Van Staden homself só: “Wel, ek is ’n bok vir sports en geniet my lewe ten volle. Hou daarvan om saam met my pêlle te kuier en goed te doen soos visvang, off-road te gaan ry en bietjie oppie dam te gaan jaag met ’n boot of so . . . Bungee-jumping rule.” Een van sy vriendinne het op Facebook aan hom geskryf: “Stephan . . . Weet jy gaan nie vinnig weer op Facebook wees nie, maar só baie van ons het DIREK hospitaal toe gejaag en het daar gebly tot 01:00 . . . Tot jy uit die teater gekom het en vas, vas, vas geslaapies het. Skat, ons bid vir jou, en almal van ons is lief vir jou en gee vir jou om!!” Berrangé het gesê dit sal eers ná die tweede operasie duidelik wees in watter mate Van Staden sal kan herstel, maar dit is onwaarskynlik dat hy weer sal kan loop.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|