Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||||||
|
'Rugbystadions veilig'
Kaapstad. – Die ANC-LP’s mnre. Butana Komphela en Cedric Frolick se verklaarde planne om rugbystadions by unies “weg te vat” is “nié ANC beleid nie”. Mnr. Khotso Khumalo, ANC-LP en politieke hoof van die party in die parlement, het gister gesê die regering kan stadions nie summier onteien soos Komphela en Frolick klaarblyklik voorstel nie. “Dis nie ons party se beleid om stadions by enige sport weg te vat nie. Boonop het groot borge soos Absa en ENB belange by baie stadions. Nee, ons sal dit nie doen nie.” Die party se nasionale leierskorps het by monde van mnr. Brian Sokutu, ’n woordvoerder, met Khumalo saamgestem: “Ons sal nie so iets steun nie. Kwessies oor watter sportsoorte watter stadions gebruik, moet tussen sportmense uitgeklaar word. Dit is nie ons beleid (om stadions af te vat) nie.” Dit is die derde keer wat Komphela deur sy eie party gerepudieer word. Die ANC het tydens die veelbesproke sportindaba verlede maand ’n verklaring uitgereik waarin die party sê sy uitsprake strook nie met ANC-beleid nie. Komphela is verlede jaar ook voor stok gekry toe hy gedreig het dat die regering die Springbok-rugbyspan se paspoorte sal wegneem. Hy het eergister op ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport gesê: “Ons is op pad om alle stadions van rugby weg te neem...niks gaan ons keer nie,” terwyl Frolick rugby rassisties en ’n “misdadigersport” (delinquent sport) genoem het. Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) oorweeg dit intussen om met die ANC se parlementêre leierskorps oor hul uitsprake te praat en die VF+ het gister ’n klag by me. Gwen Mahlangu-Nkabinde, speaker van die parlement, ingedien. Mnr. Willie Spies, VF+-LP, het aan die Nasionale Vergadering (NV) gesê Komphela en Frolick misbruik parlementêre privilegie. Volgens hom dui verskeie onlangse uitsprake daarop, soos hul kommentaar dat ’n rugby-amptenaar “nie omgee wanneer swart mense sterf nie”; die beskuldiging dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) vol “wittes en Indiërs” is; en die beskuldiging van ’n LP van ’n “wit mentaliteit” en “boeremaniere”. AfriForum het op sy beurt ’n brief aan mnr. Jacob Zuma, ANC-leier, gestuur waarin gevra word dat die party Komphela en Frolick “tot orde roep”. Dié organisasie sê in ’n verklaring hul uitsprake dui daarop dat hulle “vergelding eerder as versoening” najaag. Stofile het Dinsdag gesê die embleem is deur die regering by die relevante owerhede geregistreer en dat daardie registrasienommer beskikbaar gestel kan word. Stofile het Saru beveel om die embleem na die regterkant van die trui te verskuif om vir die Protea plek te maak en bygevoeg hy het dieselfde aan die nasionale sokkerbeheerliggaam, Safa, voorgeskryf. Mnr. Raymond Hack, Safa-bestuurshoof, het bevestig Bafana Bafana sal van volgende jaar af met die Protea op die linkerbors uitdraf.
|
||||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|