Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Sterf glo oor polisiegeweld
Een van die vermeende moordenaars van die diamanthandelaar mnr. Michel Rubenik (50) is dood nadat die polisie glo geweld moes gebruik om hom en makkers te arresteer. Vier verdagtes is Maandagaand ’n paar ure ná die moord op Rubenik op die M1-deurpad in hegtenis geneem. Rubenik is naby sy winkel in die Diamond Centre in die Johannesburgse middestad met onder meer ’n AK47 vermoor. Die verdagtes word “na alle waarskynlikheid” met Rubenik se moord verbind. Ingeligtes het aan Beeld bevestig dat soveel as 100 patroondoppies op die toneel gevind is en dat niks by Rubenik gesteel is nie. Supt. Eugene Opperman, provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die vier mans se silwer Toyota Corolla is van die pad getrek omdat hulle verdag opgetree het en ’n AK47 op polisiebeamptes gerig het. Volgens Opperman moes die polisie “geweld” gebruik om die verdagtes te arresteer omdat hulle hulle teen arrestasie verset het. “Die ‘geweld’ is maar iemand vasdruk en boei,” het hy gister gesê. Een van die vier verdagtes het by hul aankoms by die polisiestasie “flou geword” en gesterf. “Ons weet nog nie wat sy dood veroorsaak het en of iemand nalatig was nie. Vir al wat ons weet, is hy aan ’n hartaanval dood,” het Opperman gesê. Maar me. Dikeledi Phiri, woordvoerder van die onafhanklike klagte-direktoraat (OKD), het gister aan Beeld gesê hulle is besig om aanbevelings vir tugstappe teen polisielede te doen. “Luidens die lykskouingsverslag het hy gebreekte ribbes en beserings gehad wat ooreenstem met ernstige aanranding.” Phiri het gesê hulle sal ook hul aanbevelings aan die direkteur van openbare vervolging voorlê vir moontlike strafregtelike vervolging van polisielede. Die identiteit van die oorledene is nog nie bekend gemaak nie omdat sy naasbestaandes nog nie van sy dood verwittig is nie. Die ander drie verdagtes sal volgende week weer in die Johannesburgse landdroshof verskyn.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|