Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
‘Stelsel faal my kind’
Mafikeng. – Die stelsel het haar kind in die steek gelaat. As Johann Nel (19) die regte hulp gekry het nadat hy die eerste keer ’n vuurwapen op ’n swart man afgevuur het, was dinge vandag miskien anders. So het mev. Corrie Nel gister gesê nadat haar seun in die hooggeregshof in dié stad in Noordwes vier keer lewenslange tronkstraf opgelê is. Regter Ronald Hendricks het Nel ’n lewenslange vonnis opgelê vir elk van die moorde – op die tienjarige Enoch Matshelanoka, die twee maande oue Elizabeth Moiphitli, haar ma, me. Annah Moiphitli (31), en die 37-jarige mnr. Sivuyile Peyi. Daarby het Nel vier jaar tronkstraf gekry vir die drie aanklagte van poging tot moord waar die slagoffers nie getref is nie. Vir die agt oorlewendes wat wel gewond is, is hy sewe jaar gevangenisstraf elk opgelê. Hy is gevonnis tot ’n bykomende vyf jaar op aanklag van die onwettige besit van ’n vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Volgens mev. Nel is ’n voorbeeld van haar kind gemaak. “Ek hoop net dit het die regte uitwerking,” het sy gesê. “Ek hoop dit sal rasgemotiveerde misdade stopsit en nie aanwakker nie.” Hendricks het gesê rasse-aanvalle – of dit wit op swart of swart op wit is – moet ontmoedig en afgekeur word. Die mense van Suid-Afrika moet leer om in vrede en harmonie saam te leef: “Die milieu waarin ons kinders in die land grootword, moet vry wees van rassehaat. “Dít is grotendeels waar u omgewing en u opvoeding u gefaal het,” het hy aan Nel gesê. Hendricks het gesê Nel het veral ná die voorval in Mei 2001 waarin sy broer, Heinrich (23), met plaasaanvallers baklei en hulle verjaag het, intense angs ervaar wat in haat gekristalliseer het. “Dié haat was veral rassehaat teenoor swart mense.” Mev. Nel het gesê daar is baie gehamer dat Nel uit ’n wanfunksionele gesin kom: “Ek het gedoen wat ek kon doen. Johann was depressief en het sy spanning so onderdruk dat ’n mens dit nie kon agterkom nie. “Ek het dit nie agtergekom nie en Johann het nie gepraat nie.” Volgens Hendricks het ’n reeks gebeure oor ’n lang tydperk tot die tragiese gebeure van 14 Januarie aanleiding gegee. Nel was blootgestel aan rasgemotiveerde haat, waarin hy hom ook verdiep het. Dié haat het uiteindelik ontaard in die dood van vier onskuldige mense, onder wie ’n baba en ’n kind, en agt ander wat gewond is. Hendricks het gesê Nel het dié dag in die Skierlik-plakkerskamp buite Swartruggens op onskuldige en niksvermoedende mense geskiet. “Die voorval was rasgemotiveer. U het die oorledenes en die klaers geskiet net omdat hulle swart was. “Dit is ook waarom u geskree het: ‘Kom julle uit, julle k****rs, julle swart?gatte. Ek gaan julle almal doodskiet.’ “U was besig om ’n revolusie te voer teen swart mense, soos u ook gesê het. “U was uit op ’n rassistiese moordtog wat gemik was op swart mense. Dit is beskryf as ’n teregstelling, oftewel ’n menseslagting.” Mev. Nel het ná vonnisoplegging gesê sy het nog drome vir haar kind. Sy hoop hy sal sy matriek klaarmaak, begin studeer en sy plek in die gevangenis vind. “Ons moet aangaan om daar te wees vir Johann, maar ek dink soms dat hy óns gaan dra,” het sy gesê. Mnr. Frikkie Pretorius, Nel se prokureur, het aangedui dat hulle op 12 Desember ’n aansoek om verlof tot appèl sal bring. Die regter, die aanklaer en hul gesinne is onder polisiebewaking en die polisie ondersoek die dreigemente. ’n Groot groep gewapende polisiemanne was ook gister in die hof.
|
||||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|