Gautrein in Beeld
Die Gautrein-projek vorder fluks. Loanna Hoffman het haar kamera byderhand gehad.
Beeld
Tim du Plessis se rubriek
Nzimande spel onheil vir SA se vernielde universiteite.
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote


Navorser geskors ná sy lesing oor water
Nov 21 2008 09:29:26:740PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Verwante Berigte
  • 'Akademici moet hul stem hieroor laat hoor'
  • WNNR muilband eie kenner
  • Elise Tempelhoff


    Die uitvoerende komitee van die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het een van sy voorste waternavorsers gister geskors omdat hy dié raad glo in ’n “swak lig stel” deur die werk wat hy doen.

    Die raad, onder die voorsitterskap van dr. Sibusiso Sibisi, het dr. An-thony Turton, sosiaal- en politieke wetenskaplike gister geskors en gevra om onmiddellik sy kantoor te ontruim.

    Hy moes sy rekenaar aan die uitvoerende komitee oorhandig sodat ’n tugondersoek gedoen kan word.

    Turton se skorsing kom nadat die uitvoerende komitee hom vroeër vandeesweek verbied het om die kernlesing, “A clean South Africa”, oor watergehalte by sy tweejaarlikse beraad in Pretoria te lewer.

    Die raad het gister in ’n kort verklaring gesê Turton word daarvan aangekla dat hy die organisasie se “beleid oortree, sekere prosedures verontagsaam en die organisasie in ’n swak lig gestel het”.

    Turton, leiernavorser van die WNNR se eenheid vir natuurlike hulpbronne en die omgewing, het gister in reaksie gesê hy moes sy hele kantoor ontruim, sy rekenaar aan die raad teruggee en sy internet afskakel. Hy het teen gistermiddag net ’n selfoon gehad.

    “Ek mag verder niks sê nie. Alles wat ek nou sê, sal as getuienis teen my gebruik word,” het hy gesê.

    Hy staan egter by die “waarheid oor die watersituasie in Suid-Afrika” wat hy in sy lesing geskryf het.

    Hy het gesê die lesing wat hy by die beraad, Science Real and Relevant, sou lewer, was die “hoogtepunt van sy akademiese loopbaan”.

    Alles wat hy daarin sê, is wetenskaplik gefundeer, sê hy.

    Die voordrag is deur verskeie wetenskaplikes nagesien voordat hy dit aan die raad voorgelê en hulle dit as kernlesing goedgekeur het.

    Die WNNR het in ’n vroeëre verklaring gesê Turton stel in sy lesing standpunte wat hy nie kan staaf nie.

    Turton sê in die voordrag waaraan ’n lywige bronnelys geheg is, al Suid-Afrika se water is reeds toegeken, dat dit in so ’n mate besoedel is dat die sogenaamde “verdunningeffek” nie meer bestaan nie en dat dié aspekte ekonomiese groei aan bande gaan lê. Hy meen met dié aspekte in gedagte moet die regering se Asgisa-program (Accelerated and Shared Growth Initiative for South Africa) hersien word.

    Hy beklemtoon in die lesing ook dat kundigheid en ’n institusionele geheue in Suid-Afrika verlore gaan weens kenners wat die watersektor verlaat.

    Turton het eergister by navraag gesê hy is “passievol oor sy werk” en dat die WNNR ’n instelling is waar lewendige akademiese debat gewoonlik gevoer word en oplossings vir probleme gesoek word.

    Dit was nie sy bedoeling om die WNNR in die verleentheid te stel nie, maar wat hy geskryf het en by die beraad sou sê, is die “waarheid”.

    Die WNNR sê voorts hulle gaan geen verdere kommentaar lewer oor hul besluit om Turton te skors en ’n tugondersoek na sy werksaamhede te doen totdat dit afgehandel is nie.


    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

    vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |