Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Beeld kry ’n nuwe redakteur,
Media24 sê oor nog top-poste
Die direksie van Media24, uitgewer van onder meer Beeld, het drie senior redaksionele aanstellings goedgekeur. Peet Kruger (49), tans redakteur van Beeld, word aangestel as hoofredakteur van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport. Kruger sal in hierdie rol verantwoordelik wees vir spesifieke strategiese projekte binne die groep, met die redakteurs van Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport wat aan hom sal verslag doen. Hy is in 1981 aangestel as subredakteur by Beeld en was van 1990 tot 1997 parlementêre verslaggewer. Hy is in 2000 as redakteur van die koerant aangestel. In reaksie op sy aanstelling het Kruger gesê opwindende tye lê vir Media24 se koerante voor. “Wêreldwyd moet koerante pynlike aanpassings doen om die oorgang te maak van ’n papier-koerant na ’n nuusorganisasie wat nuus 24 uur van die dag winsgewend op papier, die internet, selfone en ander kanale aanbied. Ons posisioneer ons om daardie aanpassings pro-aktief te doen. “Soos alle ander veranderingsprosesse sal dit pynlik wees, maar ons moet dit doen as ons in die toekoms so suksesvol wil wees as tot dusver. “Media24 en Naspers se visie om pro-aktief op te tree beteken daar is hoop vir die toekoms van goeie joernalistiek in Afrikaans.” Tim du Plessis (54), sedert September 2001 redakteur van Rapport, word aangestel as redakteur van Beeld. Voordat Du Plessis hom by Rapport aangesluit het, was hy onder meer redakteur van The Citizen en die Sondagkoerant City Press. Hy het sy loopbaan by Beeld in Johannesburg begin as ’n algemene nuusverslaggewer. Van 1981 tot 1989 was hy ’n politieke korrespondent van Beeld. In 1992-’93 het Du Plessis as ’n Nieman-genoot aan die Harvard-universiteit in die VSA gestudeer. “Dis ’n groot voorreg om redakteur te word van Beeld, een van die land se toonaangewendste koerante,” het Du Plessis gesê. “Ek het 32 jaar gelede as joernalis by Beeld begin en sien uit na ’n tweede skof by die koerant. Ons leef in ’n land en ’n wêreld in beroering. Daar kan geen beter tyd wees om die redakteur van ’n dinamiese dagblad te wees as juis nou nie.” Liza Albrecht (34), nasionale redakteur van die bylae By in Beeld, Die Burger en Volksblad, is aangestel as redakteur van Rapport. Sy is die eerste vrou in dié posisie. Albrecht is die afgelope nege jaar lid van Die Burger se span, waar sy onder meer hoof was van die dagsubkantoor en algemene verslaggewer en redakteur van By. Die afgelope drie jaar beklee sy die pos as nasionale redakteur van By en sy is in 2008 ook aangestel as assistent-redakteur van Die Burger. In reaksie op die keuse van sy opvolger het Du Plessis gesê: “Ek wens Liza alles van die beste toe by Rapport. Mag sy uit hierdie opwindende koerant soveel vreugde put soos ek het.” Albrecht het gesê die aanstelling is ’n besondere eer. “Maar dis terselfdertyd ’n geweldige uitdaging; enersyds omdat ons koerante tans ’n moeilike oorgangstydperk beleef en andersyds omdat ek terdeë bewus is dat ek die eerste vrou is wat die posisie sal beklee.” Mnr. Abraham van Zyl, uitvoerende hoof van Media24-koerante, het in reaksie gesê die maatskappy het volle vertroue in en groot verwagtinge van die drie kandidate. “Dit is ’n opwindende tyd vir koerante. Ons glo ons het die beste span om die uitdagings aan te gryp.” Mnr. Francois Groepe, uitvoerende hoof van Media24, het gesê wêreldwyd is mediamaatskappye besig om hul sakemodelle by gebruikerspatrone aan te pas. “Ons visie is om ons nuusaanbod verder te versterk deur nuus 24 uur per dag beskikbaar te stel, ongeag die platform, en sodoende ons posisie as toonaangewende mediamaatskappy gestand te doen. “Hierdie aanstellings is ’n opwindende ontwikkeling vir die maatskappy. Nie net stel ons twee deurwinterde redakteurs in senior posisies aan nie, maar ook die eerste vrou wat Rapport se leisels gaan oorneem.” Henry Jeffreys, redakteur van Die Burger, en Jonathan Crowther, redakteur van Volksblad, bly in hul onderskeie poste aan.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|