Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Vermoorde vrou in brandende hoewehuis gekry
Nov 30 2008 07:58:35:613PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Insp. Carlo van den Berg van die Vaalrand-honde-eenheid en Black probeer 'n spoor op die grondpad voor die moordhuis kry. Foto: Sonja van Buul
Sonja van Buul

Henley on Klip. – ’n Man het eergisteraand vergeefs probeer om sy bejaarde buurvrou uit haar brandende huis te red voordat noodhulpwerkers ontdek het sy is vermoor.

Mnr. Hans Hendriks van ’n kleinhoewe net buite Henley on Klip was op pad om ’n vriend te gaan ontmoet toe hy rook by die huis van me. Hannetjie Benade (70) opgemerk het.

“Ek het na die buurhuis gery om ondersoek in te stel en gesien die motorhek staan oop,” het hy gesê. “Mev. Benade was baie veiligheidsbewus en altyd agter slot en grendel.”

Hy het gesien die huis brand en inderhaas na sy huis gery om ’n breekyster te gaan haal.

“Mev. Benade het alleen op die kleinhoewe gebly, maar het alle moontlike veiligheidsmaatreëls gehad en al die huis se deure en vensters was gesluit.

“Daar was so baie rook dat ek radeloos vensters gebreek het terwyl ek rondom die huis gehardloop het om dit uit te kry.”

Kort daarna het Netcare 911-paramedici en die Midvaal-brandweer opgedaag. Hulle het in die huis op Benade se half verkoolde liggaam afgekom.

Sy is vermoedelik in die bors geskiet of gesteek, het konst. Teboho Lephoto, polisiewoordvoerder, gesê.

“Die nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood aan die lig bring.”

Die polisie ondersoek volgens Lephoto die moontlikheid dat Benade in haar motorhuis aangeval en daarna na haar slaapkamer gesleep is.

“Haar lyk is op haar bed in die slaapkamer gevind.”

Die motief vir die moord is nog onduidelik. “Ons kon nog nie vasstel of iets uit die huis vermis word nie.”

Mnr. Johan Benade (48), haar seun van Kliprivier, was eergistermiddag by ’n veiling en het van sy ma se dood gehoor toe ’n vriend hom bel om medelye te betuig. “My ma het geglo en vertrou sy is veilig op die kleinhoewe en ek het baie aande gaan kyk of alles in orde is.

“Sy was ’n mens wat ander altyd gehelp het en ek kan nie dink dat iemand haar wou vermoor nie.”

Sy ouers was geskei en sy pa, Gerrie (73), is vroeër vanjaar aan ’n hartaanval dood, het Benade gesê.

Die polisie ondersoek klagte van moord en brandstigting.

Buiten Johan word Benade oorleef deur haar seun Gerhard van Louwsburg in KwaZulu-Natal en haar dogter, Marina du Plessis van Meyerton.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |