Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
|
Cholera in SA rivier Polokwane (Pietersburg). – Die Limpopo-rivier is met cholera besmet. Boere met besproeiingsplase wat aan die rivier grens, is uiters bekommerd nadat die gesondheidsdepartement in Limpopo mense gewaarsku het om glad nie die rivierwater te gebruik nie. Mnr. Phuti Seloba, woordvoerder van die departement, het gesê toetse is eergister op die water gedoen en dit is beslis besmet. ’n Ernstige cholera-uitbreking in Zimbabwe het onlangs na Suid-Afrika se mees noordelike provinsie oorgespoel. Die cholera het vermoedelik in die rivierwater beland toe siek Zimbabwiërs deur die rivier geswem het om in Suid-Afrika hulp te soek. Me. Marie Helm, streekbestuurder van TLU SA, het gesê die besmetting het verreikende gevolge. Talle boere gebruik water uit die rivier vir besproeiing van meestal groente. Die water word ook vir huishoudelike doeleindes deur plaaswerkers gebruik. “Boere en tradisionele leiers word gevra om inligting oor die besmette rivier te versprei en streng gesondheidsmaatreëls in te stel.” Inwoners van Musina is gerus gestel dat dié dorp se drinkwater nie beïnvloed sal word nie. Mnr. Wilson Dzebu, woordvoerder van die Musina-munisipaliteit, het gesê die dorp se water is van die Limpopo-rivier afkomstig, maar word goed gesuiwer. Verskeie inwoners het egter aan Beeld gesê hulle kook reeds as voorsorgmaatreël hul drinkwater of gebruik gebottelde water. Talle siek Zimbabwiërs het gister in Musina onder bome gesit of gelê terwyl hul aarvoedingsbuise aan bome se takke gehang het. Hulle word in tente by die Musina-hospitaal behandel, maar weens die erge hitte van tot 35°C in dié grensdorp is dit baie koeler onder die bome as in die tente. Die siekte het intussen nog ’n slagoffer geëis toe ’n 64-jarige Zimbabwiër eergistermiddag laat in een van die tente dood is, het Seloba gesê. Dit bring die dodetal in Suid-Afrika weens cholera sedert middel November op sewe te staan. Seloba het gesê 111 pasiënte word in die hospitaal en die tente vir cholera behandel. Vyf is na die Polokwane- provinsiale hospitaal oorgeplaas. ’n Dokter is ook uitgeplaas na die Madimbo-kliniek, tussen Musina en Pafuri, waar baie cholerapasiënte daagliks aanmeld. Intussen berig Sapa-AFP dat 484 mense reeds sedert Augustus in Zimbabwe aan die gevreesde siekte dood is. Meer as 11 000 gevalle is in die land aangemeld. Die eerste cholera-geval suid van die grens is op 15 November aangemeld toe ’n vrou in Musina behandel is. Sy het die siekte vermoedelik in die Beitbrug-gebied in Zimbabwe opgedoen en toe na Suid-Afrika gekom. Sedertdien doen die gesondheidsdepartement van Limpopo alles moontlik om die stroom siek Zimbabwiërs, wat elke dag meer word, te behandel. Vlugtelinge uit die land woon ook in haglike omstandighede op die Musina-skouterrein terwyl hulle wag om om asiel aansoek te doen. Behalwe vir die drie markiestente van die gesondheidsdepartement wat naby die hospitaal op die dorp opgeslaan is, het die Verenigde Nasies ’n bykomende tent staangemaak om pasiënte te rehidreer. Die Internasionale Rooi Kruis het gister ook pasiënte by die hospitaal bygestaan.
|
|
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|