Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
'Hou my eerder as gyselaar'
Die oomblik toe ’n man van die Suid-Afrikaanse vrou en haar twee seuns hoor wat in Jemen ontvoer is, het hy gery na waar hulle aangehou is en aangebied om in hul plek gyselaar te wees. Dié man, ’n vriend van mev. Sumali Smith en haar man, Pierre, wil nie hê sy naam moet genoem word nie. Gewapende lede van die al-Marakisja-stam het die swanger mev. Smith en haar seuns, onderskeidelik drie en ses jaar oud, Vrydag in die suidelike Abjan-provinsie ontvoer. Hulle is op die hoofweg tussen Hadhramoet en die hawestad Aden oorval. Mnr. John Davies, Suid-Afrikaanse ambassadeur in Saoedi-Arabië, het gister uit Riaad aan Beeld gesê die Smith-gesin was met vakansie en op pad terug na hul huis in Sanaa, die hoofstad van Jemen. Sowat 100 km van Aden het hulle motorprobleme ondervind. Mnr. Smith, ’n rekenmeester oorspronklik van Centurion, het verkies om by die motor te bly terwyl die res van sy gesin saam met iemand anders verder gery het. Die stamlede het dié motor voorgekeer en die drie Smiths en die bestuurder ontvoer. Die bestuurder is later dié dag vrygelaat toe die Smiths se vriend homself as gyselaar aangebied het. Mnr. Corrie Block, nog ’n familievriend wat namens die Smiths praat, het gesê die vriend het die stamlede openlik berispe oor hoe hulle ’n swanger vrou en haar kinders kon ontvoer. Volgens die stam se kultuur is dit glo onaanvaarbaar om ’n vrou en kinders te ontvoer, maar ontvoering van mans meer aanvaarbaar. Die vriend het ook ’n rol in die onderhandelinge tussen die stamlede en die owerhede gespeel. “Hy is die held in die verhaal. Die Smiths is hom baie dank verskuldig,” het Block gesê. Die owerhede het aan die ontvoerders se eise voldoen deur ’n familielid in polisie-aanhouding – ’n polisielid wat weens wangedrag aangehou is – vry te laat in ruil vir die gyselaars se vrylating. Die Smiths is Saterdagaand ongedeerd vrygelaat en eergister met mnr. Smith in Aden herenig. Davies het gesê tydens die sowat 24 uur wat mev. Smith en haar seuns aangehou is, het sy haar man gereeld per selfoon gebel en mnr. Smith die heeltyd geweet hoe dit met sy gesin gaan. Davies het gesê ontvoering is nie ongewoon in Jemen nie. “Maar volgens ons kennis is Suid-Afrikaners nog nooit (tot nou toe) ontvoer nie.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|