Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Minister wil by Motlanthe weet wat gaan aan met Selebi
Meningsverskil bestaan klaarblyklik op die hoogste regeringsvlak oor wat met die pos van die nasionale polisiekommissaris moet gebeur. Mnr. Nathi Mthethwa, minister van veiligheid en sekuriteit, het eergister in ’n radio-onderhoud beklemtoon die polisie kan nie sonder ’n heeltydse kommissaris klaarkom nie. Volgens hom is dit nie ’n volhoubare oplossing dat komm. Tim Williams as nasionale polisiehoof waarneem terwyl komm. Jackie Selebi met langverlof is nie. Selebi is sedert ’n jaar gelede met langverlof hangende die hofsaak teen hom. Hy word van regsverydeling en bedrog aangekla. Voormalige pres. Thabo Mbeki het sy dienstermyn in Junie verlede jaar met ’n jaar verleng. Dit sal die belastingbetaler ’n verdere R1 miljoen kos, al sal hy waarskynlik nie gou weer op kantoor wees nie. Mthethwa wil ’n einde hieraan maak en het pres. Kgalema Motlanthe reeds daaroor genader. “Ons wag nog om van die president te hoor, maar ons regsafdeling in die departement hanteer die saak verder,” het mnr. Hangwani Mulaudzi, Mthethwa se woordvoerder, gister gesê. Mnr. Thabo Masebe, presidensiële woordvoerder, wou geen korrespondensie tussen Motlanthe en Mthethwa bevestig of ontken nie. “Die reëling bly staan soos dit is,” het hy gesê. Motlanthe het op 12 Desember op ’n parlementêre vraag van me. Patricia de Lille, leier van die Onafhanklike Demokrate (OD), geantwoord hy sal Selebi se aanstelling net heroorweeg as die howe ’n uitspraak lewer. “ ’n Persoon is onskuldig totdat daar anders bewys word,” het Motlanthe gesê. De Lille het gesê sy is bekommerd omdat dit lyk of die verhouding tussen Mthethwa en Motlanthe besig is om te verbrokkel. Die OD eis moet Selebi finaal afgedank word. “Intussen sal Suid-Afrikaners maar moet aanvaar elke keer as hulle ’n polisiestasie besoek, sal ’n geraamde foto van ’n beskuldigde hulle begroet,” het De Lille gesê. Die DA het Mthetwha se uitsprake ook verwelkom. Me. Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het gesê korrupsie in die polisie raak al hoe erger en Mthethwa moet daad by die woord voeg.
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|