Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Ure langs man se lyk
Feb 10 2009 09:40:49:010PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Mev. Daphne Boshoff. Foto: Herman Verwey
Virginia Keppler

’n Vrou van die misdaadgeteisterde Kameeldrift, noord van Pretoria, het gister sowat vier uur lank vasgebind langs haar vermoorde man gelê voordat sy kon loskom.

Die aanvallers het mnr. Renier Boshoff (67) summier in die bed in die kop doodgeskiet.

Die hoewe waar hy 21 jaar lank saam met sy vrou, Daphne (60), gewoon het, is enkele meter van die spoglandgoed Kievits Kroon af.

Drie gewapende rowers het hulle gister om 02:00 in hul slaap oorval in die soveelste aanval op inwoners van dié hoewegebied.

Mnr. Marius Boshoff (24), die egpaar se jongste seun, het gesê die aanvallers het die diefwering van ’n venster langs sy ouers se sitkamer gebreek om by die huis in te kom.

“My ma-hulle het eers wakker geskrik toe hul slaapkamerlig aangeskakel is. Toe my pa nog probeer regop sit het, het die rowers hom in sy bed in die kop geskiet.

“Daarna het hulle my ma deur die huis geneem en haar geld, vuurwapens en juwele gevra. Sy het gesê sy het nie die kluis se sleutel nie – dit is by een van haar seuns.”

Daarna het die rowers sy ma terug na die hoofslaapkamer geneem. “Hulle het haar hande en voete met toue vasgebind en my das in haar mond gedruk.

“Sy het gedink hulle gaan haar ook seermaak,” het Boshoff jr. snikkend vertel.

Mev. Boshoff het dit eers om 06:00 reggekry om haar hande en voete los te kry en om hulp te skreeu.

Die rowers het toe lank reeds met gesteelde klere en ’n rekenaar gevlug. Die rekenaar se hardeskyf is ure later in die veld op die kleinhoewe gevind.

Mev. Boshoff is ’n onderwyseres by die Knikkie Knakkie-kleuterskool in Wonderboom, Pretoria, en mnr. Boshoff het sy eie kwekery op sy kleinhoewe bedryf.

Mnr. Johan Castelyn (39), ’n buurman, het gesê dit was nie die eerste aanval op dié mense nie.

“Sowat twee maande gelede het iemand elke tweede week ’n klip deur die oumense se kamervenster gegooi terwyl die tannie gesit en lees het.

“Elke keer was dit net een persoon, want ons het net een paar spore naby die huis opgetel.”

Boshoff jr. het gesê diewe het by twee geleenthede sy ma se motor probeer steel en by ’n ander geleentheid sy pa se bakkie, maar nie daarin geslaag nie.

Mnr. Piet van der Watt, DA-raadslid in die wyk, het gevra: “Is dit wraak wat op wetsgehoorsame burgers geneem word? Is dit anargie wat daar bestaan?”

Dit is volgens hom die staat se plig om inwoners te beskerm.

“Die polisie moet in die nag en dag op en af ry om ons te beskerm sodat ons rustig kan slaap om môre meer werk te kan skep.”

Boshoff jr. het gesê hy was verbaas om te sien die polisie het so gou gereageer nadat die bure alarm gemaak het, want by vorige geleenthede toe sy ouers die polisie gebel het, het hulle nie gereageer nie.

Benewens sy vrou en Marius laat mnr. Boshoff nog twee seuns, Renier jr. (28) en Werner (25), agter.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |