Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Wetenskap vir die leek
Oct 16 2006 08:38:28:080AM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Andries Lategan

Die groot avontuur – wondere van die lewe op aarde deur Leon Rousseau. Human & Rousseau (sagteband, 320 pp.), R175. ISBN 0798146508

Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

Dan was Karel Schoeman tog voortydig om die laaste Afrikaanse boek aan te kondig. Hier is ’n bekostigbare bydrae tot die skraal oes van leesbare Afrikaanse boeke wat die nuutste wetenskaplike bevindings aan die leek verduidelik.

Leon Rousseau pak twee take aan in Die groot avontuur. Eerstens wil hy leke-lesers saamneem op sy eie geesdriftige leke-ontdekkingstog deur die oerwoud van teorieë en vertolkings oor hoe lewe op aarde ontstaan en ontwikkel het tot homo sapiens.

Tweedens wil hy die leser oortuig dat paleontologiese, biochemiese en neurologiese bevindings omtrent die ontwikkeling van ondermaanse lewensvorme nie verklaar kan word sonder om soms die ingryp van ’n bonatuurlike intelligensie in die verloop van natuurlike seleksie by te roep nie.

Die eerste taak voer hy oor die algemeen helder en met insig uit. Dit is minder seker of dieselfde gesê kan word oor die skrywer se ander selfopgelegde sendingtaak.

Rousseau dis sy oorsig oor die magdom argeologiese en paleontologiese vondste op in ’n gesellige, persoonlike vertelstyl.

Die ontstaansgeskiedenis van die mens word gedek in kort hoofstukke; van die oerknal, verby ster- en planeetvorming en die ontstaan van lewe tot by die ontwikkeling van mensvorme en hul verspreiding oor die aarde. Verhale oor die laaste tema beslaan die grootste deel van die boek en bied ’n boeiende samevatting van hoe deskundiges die somtyds botsende paleontologiese getuienis vertolk.

Rousseau deurspek sy vertellings met verslae oor ervarings, gesprekke en korrespondensie met van die wêreld se voorste paleontoloë en argeloë. Baie van hulle is Suid-Afrikaners of in Suid-Afrika werksaam, en hulle hanteer Rousseau se leke-navrae blykbaar met meelewing en geduld.

Ongelukkig verlei Rousseau se gemoedelike styl hom om soms nie-tersaaklike persoonlike voorkeure aan die leser op te dring. Sy lang relaas oor die gebruik van Afrikaans aan universiteite is nie – om sy eie woord vir “toepaslik” te gebruik – felisiet nie.

Die paleo-antropoloog Phillip Tobias meen in sy voorwoord dat Rousseau die leser met ’n seker hand lei deur die doolhof van evolusieteorieë en botsende vertolkings oor die filosofiese implikasies daarvan. ’n Waarskuwing soos op sigaretpakkies is dalk eerder nodig: “Die lees van hierdie boek is skadelik vir ’n gesonde oordeel oor wat evolusioniste sê.”

Rousseau slaan ’n skynbaar beskeie toon aan in die weergee van sy wye belesendheid, maar val plat as ewewigtige en skeptiese begeleier van die leser deur die literatuur omtrent die suksesse en probleme van opstapelende natuurlike seleksie (bekend as Neo-Darwinisme).

Hy klits twee soorte kritiek op Neo-Darwinisme deumekaar en daarmee verwar hy die wetenskaplike vraag oor hoe die ontstaan en ontwikkeling van lewe verklaar kan word (waarop die evolusieteorie ’n antwoord voorstel) met die belangrike eksistensiële vraag na hoe mense sin en betekenis aan hul ondermaanse bestaan kan gee. Rousseau maak groot gewag van ’n fisiese antropoloog, Jeffrey Schwartz, se onuitgewerkte hipotese omtrent die rol van hoksgenes (’n reeks van naasliggende DNS-molekules in gene wat die vormontwikkeling van organismes bepaal).

Die Google-soekwoorde “ homeobox gene review” lewer 187 000 artikels op. ’n Proefsteek van 17 van hierdie artikels oor die biochemie wys onteenseglik dat hoksgene eweneens binne die raamwerk van Neo-Darwinisme hul werk doen.

Hierdie artikels bevestig klinkend die sukses van kumulatiewe natuurlike seleksie as ’n verklaring vir die ontwikkeling van komplekse entiteite soos die oog.

Rousseau se uitasem-gevolgtrekking dat die ontdekking van hoksgene die Neo-Darwinisme die nekslag toedien, lyk op die minste na wensdenkery.

In sy bespreking van die stand van die evolusieteorieë steun Rousseau ook onkrities die indruk wat sommige wetenskapjoernaliste probeer skep dat Neo-Darwinisme van die baan gevee is deur die voorstanders van die sogenaamde sprong-evolusieteorie (punctuated evolution).

Dit is gewoon onwaar.

Etheridge en Gould se voorstel in hierdie verband is pens en pootjies binne die einste Darwin-raamwerk van stapsgewyse ontwikkeling van gene en spesies.

Etheridge en Gould stel slegs voor dat daar bykomende en eksterne faktore is wat die tempo van evolusie onder sekere geografiese omstandighede bepaal. Dit is deel van die robuuste en gesonde gesprek tussen vakwetenskaplikes wat die oorsprong en ontwikkeling van lewensvorme as oop, selforganiserende sisteme volledig wil verklaar in terme van fisiese en biochemiese beginsels.

Die tweede soort kritiek op Neo-Darwinisme wat Rousseau byroep, het juis sy oorsprong in die drang om ’n rol te gee aan bonatuurlike ingrypings in die evolusieverhaal. Hy argumenteer in hierdie verband – om sy bête noire, Richard Dawkins, se woorde by te roep – uit ’n posisie van persoonlike ongelowigheid.

In verwondering oor ’n kind se vermoë om baie tale aan te leer, verklaar Rousseau op deus ex machina-styl dat “ . . . ’n baie groot, ’n onbegryplike Intelligensie” verantwoordelik moet wees vir taalaanleervermoë. ’n Argument wat berus op iets wat onbegryplik is, kan beswaarlik deel wees van ’n gesprek oor die geldigheid van wetenskaplike teorieë.

Rousseau verwys wel na Pinker en Bloom se studie waarin hulle tot die gevolgtrekking kom dat menslike taal ontwikkel het deur natuurlike seleksie, maar verduidelik nie hoekom hy hul bevinding nie aanvaar nie.

Rousseau behoort dalk ag te slaan op Karen Armstrong se waarskuwing in A history of God dat mense wat hul godsbegrip wil haak aan die immer krimpende gebiede van natuurverskynsels waarvoor daar nog nie ’n deeglike teorie ontwikkel is nie, altyd aan die hardloop gaan bly voor wetenskaplike vordering.

  • Dr. Andries Lategan is ’n afgetrede teoretiese fisikus en vryskutskrywer.

    Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

    Teken in op Beeld

    Kry Beeld op jou Facebook-profiel

    Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

  • vind
    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende

    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Adverteer in Beeld | Kontak ons |