Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Word selfs grote Puccini versmaai, is skroef los
Jan 06 2009 03:15:40:950PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Michelle Breedt (links) as Charlotte en Nokrismesie Skota as Sophie in Kaapstad-Opera se opvoering van Massenet se Werther. Foto: Stuart Ralph

Die fokuspunt van opera bly in die Wes-Kaap. Kaapstad-Opera het in 2008 deurlopend volledige operaproduksies aangebied, en daarby ook in erkende voorste operahuise in Europa en Skandinawië met sukses operas op die planke gebring.

Dan is daar ’n afgrond. Onder, vér onder in die rivierbedding is daar ’n dun stroompie en ’n poel staande water in die noorde waarin individue en organisasies spartel teen besoedeling.

Die regering se kunsteministerie is geensins begaan oor die skynbaar onuitputlike talent aan operatalent in die land nie, sodat die oorgrote meerderheid presies net dít bly: talent. Die komplekse kunsvorm, wat in die buiteland selfs onder jongmense floreer, ontvang skamele finansiële hulp van die “kuns-teraad”, terwyl “uitgeweke” sangers, swart en wit, hul heil in die buiteland gaan soek. Met sukses.

Een só ‘n suksesvolle sanger is die mezzosopraan Michelle Breedt, wat in Kaapstad in Massenet se Werther kom bevestig het waarom sy so ’n gesonde loopbaan in Europa geniet. As haar Charlotte plek-plek effens robuus aangedoen het, was haar intensiteit en helende vokale bydrae duidelik die grondslag waarop haar uitmuntende loopbaan rus.

Die eietydse opera Poet & prophetess van die Sweedse komponis Mats Larsson Gothe en libretto (in Engels, Xhosa en Sweeds) deur Kaapstad-Opera se Michael Williams, is in Maart in Umea vir die eerste keer opgevoer en in Oktober in Kaapstad herhaal.

Angelo Gobbato se produksie van Gershwin se Porgy and Bess vir die Kaapstad-Opera is met welslae in Berlyn en Oslo opgevoer, met oorwegend swart Suid-Afrikaanse soliste wat lof ingeoes het.

In Gauteng was die operastroompie maar flouerig. Des te meer tragies, omdat die Black Tie Ensemble (BTE) – die enigste organisasie in die land wat aan operasangers ’n vaste inkomste bied – vir die tweede jaar agtereenvolgens nie ’n volledige produksie op die planke kon bring nie. Soos met die Olimpiese atletiekspan(ne) is die trae ontplooiing van die selfs amptelike SA lotery-beloftes en die dobberende “beleid” van die kunsteministerie aanspreeklik. Vooruitbeplanning, essensieel vir ’n kunsteorganisasie, blyk onmoontlik te wees. Die toneel uit Verdi se Un ballo in maschera in Julie het die gebrek aan ervaring ontbloot, aansienlik beklemtoon deur ’n argaïese regie-plan.

Ons was weer aangewese op operakonserte, waaruit die oorwegend jong Black Tie-soliste beswaarlik ’n loopbaan kan bou. Nietemin het dié solistekorps by elke moontlike geleentheid sy diepte aan puik sangstemme bevestig. Die opwindende Kerskonsert, The festive season in song, wat vir die eerste keer ook in Johannesburg aangebied is, was ’n vokale triomf.

Salon Music het twee belangrike operabydraes gelewer – Discovering voices en die voorstelling van Donizetti se Don Pasquale. Ook hier was die talentgawes opvallend, maar ongelukkig ook in Unisa se stemdood Z.K. Matthewssaal, en op ’n verhoog wat selfs gesoute sangers fnuik.

As die nuwe Joburg Promusica-bestuur in Roodepoort net twee simfoniekonserte die ganse jaar kon opdiep, was ’n operaproduksie net ’n vae hoop vir ’n organisasie wat die afgelope kwarteeu ’n heldhaftige operatradisie onder sy nou afgetrede artistieke direkteur, Weiss Doubell, gevestig het. Nóg ’n geleentheid vir jong plaaslike sangers daarmee heen, dus. (Dié teater is darem nie gesluit nie, maar in dié stadium herinner dit tog sterk aan die bedremmelde toestand waarin die Staatsteater in Pretoria hom bevind.)

Opera Africa se Aïda was pynlik, met soliste wat moes meeding teen ’n jagluiperd wat minagtend sy spikkelpels soos ’n elegante model geparadeer het. Dat die regisseur Laurence Dale die Nederlandse dirigent Vincent de Korte in twee opvoerings sou vervang, is nie bekend gemaak nie; en ook nie dat die beplande speelvak van Peter Brook se La Tragédie de Carmen (na Bizet) in die Markteater afgestel is nie. In die kunste word dié soort verleenthede gewoonlik geheim gehou – beswaarlik ’n diens aan voornemende ondersteuners.

Isango Portobello se hoogs verdienstelike The magic flute as ’n Afrika-weergawe met ’n marimba-orkes van Mozart se Die Zauberflöte is wel in die Markteater opgevoer.

’n Musiekspel eerder as opera, soos die Britte dit bekroon het met (hul verdagte) Olivier-prys as die beste “musical” verwerking.

Die Tshwane-universiteit se vokale kuns-departement het Puccini se La bohème opgevoer, terwyl daar talle operas is waarby studente veel meer sou baat. Die studentikose benadering van Gilbert & Sullivan se operette The mikado het die moedige poging van die groepie studente besweer.

In dié kolomme is die gebrek aan behoorlike hulde aan Puccini betreur – ’n komponis wie se operas jaarliks in operahuise hier opgevoer is, maar met die herdenking van sy geboorte 150 jaar gelede vergeet is. Dit het wél uit ’n onverwagse oord gekom: die Johannesburg Simfoniekoor en Richard Cock, wat sy Gloria uitgevoer het, saam met ’n klompie van sy arias. ’n Beter bewys van die agteruitgang in die operamilieu is daar beswaarlik.

Die sopraan Elza van den Heever se besoek was ná haar oorwinning in die internasionale Wagner-kompetisie in Seattle ’n blink toeval vir die organiseerders van Aardklop in Potchefstroom. Straks moet ’n mens jou maar op Kaapstad-Opera beroep om haar vir ’n behoorlike operaproduksie te nooi. Soos Michelle Breedt ná haar besoek ’n paar jaar gelede aan die kunstefees in Oudtshoorn.

Oor aanbiedings soos Andrew Botha se Opera Mania en Ekaterinburg se Staatsopera-akademie se Iolanta van Tsjaikofski swyg ’n mens liefs. Vir uitgehongerde operaliefhebbers moes die reeks vertonings van New York se Metropolitan Opera-produksies in die Cinema Nouveau-teaters landwyd as vertroosting gekom het. Dit bied ook, as’t ware, ’n voorskou vir latere DVD-aankope: klaarblyklik nou die aangewese manier om die honger na die kunsvorm te stil.


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |