Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Baba en ma ♥ disko
Jan 07 2008 08:19:32:733PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Baby Loves Disco hou gereeld danskompetisies waar die kleingoed kan wys wie die beste ritme het.Foto: Georgina Shellard

Vergeet eers van poppekas, verfklasse en boublokkies. Die nuwe gier is om saam met jou kleinding lyf te skud - en dít in 'n kindervriendelike disko, skryf Daniëlla du Plooy.

Die dansvloer is stampvol. Die klubgangers dans wild rond op die maat van diskotreffers uit die 1970’s.

Op die maat van “YMCA” voer ’n groep die bewegings van The Village People se trefferliedjie met hul arms uit en sing luidrugtig saam.

Dit is egter geen temapartytjie of gewone opskop nie – van die dansers is immers nog nie uit die doeke nie of het ’n fopspeen in die mond.

Dié nuwe naweektydverdryf staan bekend as Baby Loves Disco (BLD) – danssessies wat Sondagmiddae vir ouers én hul spruite (ouderdomme kan wissel van ses maande tot sewe jaar) aangebied word. Dit het begin in die VSA en onlangs ook in Brittanje posgevat.

“Die disko was dadelik ’n reuse-sukses hier,” vertel me. Naomi Timperley, organiseerder van die Britse program en self ’n ma van twee, tydens ’n telefoniese onderhoud uit Manchester.

“Dit is een van die min aktiwiteite vir peuters en kleuters wat albei ouers ook kan bywoon en geniet.”

Die betrokkenheid van ma en pa was immers een van die redes waarom BLD aanvanklik in die VSA begin is.

Me. Heather Murphy, mede-stigter van BLD, het die eerste disko’s in Philadelphia gehou vir vriende en kennisse om iets wat gesond en lekker is saam met hul kinders te kan doen.

’n Musiekvervaardiger het een van partytjies bygewoon, die potensiaal raakgesien en kort voor lank is BLD ook aangebied in New York, San Fransisco en Orlando. Daar is tans 22 stede in die VSA waar peuters en kleuters kan lyfskud.

Timperley, ’n gesigverfkunstenaar, het ’n storie oor die Amerikaanse BLD raakgelees en besluit sy wil ook saam met haar kinders, Olivia (5) en Elizabeth (2), kan disko. Sy het Murphy gekontak en die eerste sessie in Manchester, Engeland, self gereël.

Teen September 2007 was dit reeds só gewild dat hulle ook ’n sessie in ’n baie gewilde Londense klub aangebied het.

BLD het nie ’n vaste saal of klub waar dit aangebied word nie – sessies wissel tussen verskeie bekende, veilige kuierplekke.

“Daar word elke keer seker gemaak die klub is 100% geskik vir kinders en alle gesondheids- en veiligheidsreëls word nagekom,” sê Timperley.

Ouers wat bekommerd is oor harde musiek wat dalk skade kan aanrig aan die kinders se oortrommels, kan ook gerus wees.

“Die musiek is nooit harder as 80 desibel nie,” sê sy.

“Dit is die ideale geluidsterkte, want dit is steeds hard genoeg om lekker te kan dans en die ritme aan te voel.”

Volgens Timperley is die musiek nie beperk tot die temaliedjies van bekende kinderprogramme of sogenaamde “kindermusiek” nie.

“Kinders dans op enige musiek, solank die ritme lekker is. Ons speel meestal treffers uit die ’70’s en ’80’s, want dan sing die ouers lekker saam en leer die musiek vir die kinders.”

Slegs ouers en hul spruite word in dié tyd in die klub toegelaat, en vir laasgenoemde word die gewone alkoholdrankies verruil vir vrugtesap en gesonde peuselhappies.

As die kleinspan moeg gewikkel is, kan hulle gaan asem skep in die ontspanningskamer. Hier is speletjies, boeke en legkaarte om hulle besig te hou.

Sommige klubs bied selfs vir die moeë mammas masserings aan. “Niks hier is verpligtend nie en die fokus is heeltyd op ontspanning – vir die ouers én kinders,” sê Timperley.

Die BLD-manie is besig om vinnig deur Europa te versprei.

Jong Skotte en hul ouers kan in Maart begin saamdans en daar is ook planne om takke in Skandinawië, Pole en Tokio te vestig.

“Enige ywerige ouer kan die inisiatief neem en BLD in hul area begin,” sê Timperley.

“Al wat nodig is, is genoeg entoesiasme en lekker ritme!”


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |