Snaakse video's!
Kyk na die nuwe snaakse video's van lesers. Stuur jou video na mystorie@beeld.com
Beeld
'Vroue jag my'
Is alle wit Suid-Afrikaanse vroue (potensiële) prostitute?
Jou wêreld, Jou koerant
Soek Webwerf Argiewe      
Vennote

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

My volmaakte somervakansie
Nov 20 2008 07:50:50:427PM  - (SA)  

 Druk artikel
 E-pos storie aan 'n vriend
Die volmaakte somervakansie: son, see en strand- en iemand om dit mee te deel!
Hoe wil jy graag uitspan, ontspan en uitrus? Pols publiseer vandag uittreksels uit inskrywings vir die wedstryd waarin lesers hul droomvakansie moes beskryf.

Gesinsvakansie

My volmaakte somervakansie is op Melkbosstrand, waar ons kinders bly.

Ons eet saam, stap saam, gaan saam biblioteek toe, winkels toe, strand toe, kerk toe; soms beleef ons die voorreg om ’n skoolonthaal mee te maak.

Ek lees vir my kleinkinders stories. Hulle help frikkadelle maak of koekies bak. Ons maak huise onder oorhang?ende takke in die tuin, ons lê plase of dorpe uit op die plaveisel. Ons bewonder saam ’n mooi sonsondergang.

Saans bid ons saam en verkneukel ons aan die opregtheid van kindergebedjies. – Rika van Zyl

Neem een oulike, oorwerkte man, een moeë, opgewonde vrou en twee ougat, woelige kinders.

Plaas al vier in ’n motor, haak ’n waentjie met vakansietoebehore daarby aan. Ry teen 12 Desember met die N1 na die Kaap. Verplaas na houthuis op Bettiesbaai . . . Voeg son, wind, pret, plesier, die see, die berge en liplekker kos by. My volmaakte somervakansie! – Annelize Hietbrink

Eiland-droom

Om met die vrou van my lewe (Ansie) op ’n eiland met palmbome en spierwit strande in die son te kan bak.

Jou etes geniet jy in die buitelug onder ’n rietdak en lekker vrugtedrankies met ’n sambreeltjie in.

Ek en Ansie kan bedags kilometers ver teen die see afstap, God se skepping bewonder en scuba. Vir afwisseling kan ons met ’n valskerm agter ’n boot getrek word om die seelewe uit die lug bewonder. Aandete nuttig jy op die strand by ’n vuur onder ’n see van sterre. – Gert Prinsloo

Bos toe!

Waar wil jy nou ’n beter plek as die Bosveld hê? Ongeskonde natuurskoon, wilde diere en skoon lug. Vroegoggend met die sonsopkoms koffie op die stoep met dieregeluide wat ’n nuwe dag aankondig. Lang wandelinge op grondpaaie met stofwolkies wat elke voetstap verklap. Later die dag ’n vinnige afkoel in die swembad en laatmiddag vuurtjie aanpak. Hier in die bos word ons weer mens. – Anne-Marie van Wyk

Ek is diep in die bos. Vanmôre ’n bietjie later gelê.

Heerlike brunch gemaak op ’n oop vuur. Daar is “iets” in die lug, dit is elke jaar hierdie tyd in die lug.

Dit is heerlik koel in die rondawel. Ek lees Etienne van Heerden. Die koel luggie roer die kantgordyntjie. Ek loer by die deur uit. Daar wei ’n rooibok?familie, ook ’n paar vlakvarke. Ek drink die vrede in. Die grootsheid van Sy Skepping verstom my. – Rudi van Heerden

See toe!

Vir my kan die volmaakte somer?vakansie nêrens anders wees as op Hermanus nie. Om soggens wakker te word met ’n “bôgom” van ’n bobbejaan in die berg, is hoe ek my dae wil begin.

Lieflike lomerige sonskyn op die strand, waar ek heeldag die see se turkoois-word-blou en wit-wit branders kan inneem. Laatmiddag op Skulpiesbaai langs die Mosselrivier met ’n glasie wyn sit en kyk hoe die son by Kwaaiwater se sproei in die see sak, terwyl die wolke oor die dorp na vuurrooi en oranje verkleur. – Meem van Schalkwyk

Net ek en my man in die Namib noord van Horingbaai by Skuimpoot se Gat. Vissermanhoede diep in die koppe getrek, sonverbrand, sielsalig-alleen met net die visstokke, die woestynjakkalse en robbe.

Skuilend teen die ysige Benguelawind agter ons getroue rooi bakkie met ’n OBS’sie en ’n tamatietoebroodjie, kyk mens ver tot waar die wasige spookbeelde en lugspieëlings hul bewelywe komieklik buig en dans.

Voor ons die gemmerbiergroen see wat borrelskuitjies oor die gladde sand laat gly en skaats, en om ons, ligene wat kol-kol aan die klippe en harde sanddeeltjies vasklou. Ons katrolle, ’n halwe dagmaan en ons. – Magda van der Merwe

Toe ek jonger was, was daar niks wat ons so aangetrek het nie as die somer, son en sand – maak nie saak watter see nie. Met so ’n ou romantiese volmaantjie wat kon skyn oor ons tentjie, terwyl ons stil-stil iewers op ’n strandjie kamp, was die prentjie feitlik volmaak.

Maar, en dis die verrassing, amper niks het verander nie, al is ek nou ’n oupa van amper 60. Solank die maan skyn, daar sand en see is, en ons agter skulpe en spookkrappe aan kan hardloop en kort-kort in die vlak branders kan laf wees, is die saak reg.

Dit lol nou wel soms met ons almal in die klein tentjie en soms kla Ouma ’n bietjie, maar ai, om darem so saam met al jou kleinkinders op jul skelm stukkie strand by Keurbooms te kan uitslaap en baljaar, is amper so lekker as honeymoon hou! – Cobus Erasmus

My volmaakte somervakansie is by die see in Kaapstad.

Ek begin my reis in Nylstroom, slaap oor in Beaufort-Wes en skiet deur na Kaapstad. Ek maak altyd eers ’n draai in Wellington, waar ek studeer het en dan besoek ek Tafelberg, Bloubergstrand, Melkbosstrand en die Waterfront.

Eet ’n vissie op Houtbaai se strand. Ek werk altyd ’n dagtoer in na Gordonsbaai, Muizenberg, Somerset-Wes, die Strand en Kalkbaai. Ek geniet ook die museum in Simonstad en om na die skepe in die hawe te kyk. – Jack Smit

’n Beker koffie met skaapboud-toebroodjies langs die pad. Wakker word met die gedruis van branders wat breek. My voete in die sand begrawe met die son op my lyf. Om te sien hoe my man ’n blinklyf uit die water sleep. – Mariaan Smith

Eksoties

Die volmaakte somervakansie is beslis ’n idilliese bootvaart.

Met eksotiese skemerkelkies, prettige vermaak, heerlike maaltye, luilekker sondeurdrenkte dae langs die swembad en die geleentheid om byna elke dag ’n ander land en kultuur te kan beleef. Geen in- uitpakkery nie.

Die boot vaar snags na die volgende hawe en die vakansiegangers kan elke oomblik geniet. – Maria Laubscher


Teken in op Beeld

Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi

vind
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende

Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Adverteer in Beeld | Kontak ons |