Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Skaam vir jou eie naam?
Dit word gekies terwyl jy nog ’n embrio in jou ma se maag is en in die meeste gevalle bly dit jou hele lewe lank by jou. Sommige is egter nie heeltemal tevrede met hulle s’n nie en soek een met meer koele vermetelheid. Soos Dido (Florian Cloud de Bounevialle Armstrong), Elton John (Reginald Dwight) en ons eie Valiant Swart (Pierre Nolte). Terwyl die meeste van ons en Jan Alleman maar vasbyt met onromantiese en minder cool name soos Liezel (wat 200 soort spellings het), Johan, Piet en Susan, kies akteurs, sangers en verhoogpersoonlikhede (of hul agente) dikwels iets meer glansryk om aan uitgeken te word. “Verhoogpersoonlikhede verander dikwels hul name as dit lelik is, rampspoedig klink, moeilik is om te spel of snaaks is. Joan Crawford was byvoorbeeld Lucille LeSeur, wat soos riool klink. Haar naam is uiteindelik deur ’n Amerikaanse tydskrif-opname deur die publiek gekies,” vertel die publisiteitsghoeroe Marcus Brewster. Volgens hom is ’n naam wat aandag trek belangrik as jy bo die res wil uitstaan. Dink maar self aan die aandag wat Fokofpolisiekar met húl naam gekry het. Die hoofsanger van dié groep is ook nie Francois van Coke gedoop nie, maar Francois Badenhorst. Dr. Janne Dannerup, ’n Johannesburgse sielkundige, sê die name wat mense vir hulself kies, kan help om hulself te herskep en ’n publieke persona vir hulself te ontwerp. “Dit kan help om ander te beïnvloed en in te koop op die hernieude storie van wie ons is. Name wat nie algemeen is nie, veral soos byname, help om jou van ander mense te onderskei. Ek is byvoorbeeld die enigste Dannerup in Suid-Afrika, wat dit maklik maak vir mense om te onthou of hulle my al ontmoet het of nie,” sê sy. Volgens haar het die aanvang van teater en film grootliks tot naamsveranderinge bygedra, omdat dié sterre larger than life moes voorkom. “Die was algemene praktyk deur rolprenthuise om aan akteurs en aktrises ’n naam te gee wat hul status sou verhoog en maksimum impak op die teiken- gehoor kry. ’n Uitstaande en glansryke naam het hulle onmiddellik geïdentifiseer as iets om na te streef. Deesdae het die optreders gewoonlik ’n groter sê in die bemarkingstrategieë en kan hulle dus daarin deelneem om hul name te kies,” sê Dannerup. 50 Cent, Snoop Dogg en Sting is almal voorbeelde van name wat waarskynlik vir bemarkingsdoeleindes verander is. Wie gaan nou ook Louis Pepler se CD wil koop as jy Bok van Blerk se CD kan hê? Die naam waarsku jou ook sommer aan die begin dat dit op die Afrikaanse gehoor gemik is. “Die naam is lekker op die oor en mense onthou dit. Dit het ook ’n konnotasie met die musiek wat jy maak,” vertel Van Blerk. Hoewel hy nie dié naam uitgedink het nie en dit al van skool af het, het hy steeds besef dit sal ’n lekkerder verhoognaam as Louis Pepler wees. Dieselfde geld Dozi, ook deur sy ma as Henk Opperman geken. “Die naam het hy gekry in sy dae as student by die Pretoriase Technikon. “Hy het altyd so half slaperig gelyk en van daar die naam Dozi. Van toe af ken vriend en aanhanger hom as Dozi, dit pas by sy image,” vertel sy bestuurder, Barry Pretorius. Natuurlik is dit ook ’n meer bemarkbare naam as sy doopnaam, wat volgens Pretorius ’n bonus is. Volgens Brewster speel jou naam ’n groot rol in die bemarking van jouself en is dit belangrik vir die media se belangstelling in jou. “As jy byvoorbeeld ’n bekende familielid het, sal dit dom wees om as kunstenaar nie ook dié naam te gebruik nie. Liv Tyler het byvoorbeeld media-aandag getrek omdat sy die dogter van die sanger Steve Tyler is.” Tog kies ander persoonlikhede, soos Nicolas Cage (nefie van Francis Ford Coppola), om nié die golf van hul familienaam se sukses te ry nie en wil hul eie sukses bereik deur hul name te verander. Dit blyk egter dat daar nóg meer agter die gebruik van verhoogname sit as slegs bemarking en dat dit lekker op die tong val. Abie Strydom, beter bekend as Abel Kraamsaal, sê sý naam het ’n tweeledig doel. “Die Kraamsaal-gedeelte het ’n dieper betekenis. Dis simbolies van die geboorteplek van my songs. Dit behoort mense ook ’n aanduiding te gee dat ek nie plat musiek maak nie, maar iets met substance,” verduidelik hy. Tweedens, sê Kraamsaal, is dít sy verhoogpersona. “Ek het ’n ander persoonlikheid op stage as ek Abel Kraam-saal is. Wanneer ek langs die braaivleisvuur saam met my vriende kuier, is ek Abie. Ek tref ’n duidelik onderskeid.” Hy glo baie ander sangers en musikante skep ’n ander identiteit waarmee hulle optree. “Dit gee jou meer selfvertroue op die verhoog.” Sy gunsteling-verhoognaam is Slash (Saul Hudson), kitaarspeler van die rockgroep Guns N’ Roses. Brewster sê verhoogname ís dikwels ’n instrument waardeur sterre se energie en houding op die verhoog gekanaliseer word. Brewster verduidelik ook dat ’n naam ’n handelsmerk kan word en dat dit deesdae, veral in Hollywood, soms nodig is om dit wettig te registreer. Renée Zellweger is egter iemand wat volgens Brewster lankal haar naam moes verander het. “Ek kan nie glo sy het so ver gekom met só ’n moeilike en lelike van nie. “Dit wys jou egter dat jy ’n Oscar kan wen sónder ’n naam en dat dít nie alles is nie.” Plaaslike sterre Koos Kombuis: André le Toit Johannes Kerkorrel: Ralph Rabie Roof Bezuidenhout: Andries Bezuidenhout Chris Chameleon: Chris Mulder Nataniël: Niel le Roux Dowwe Dolla: Margit Meyer-Rödenbeck Al gehoor van... Alice Cooper, Amerikaanse sanger: Vincent Damon Furnier Sonny Bono, Amerikaanse liedjieskrywer/sanger: Salvatore Philip Bono David Bowie, Britse sanger: David Robert Jones. Bob Dylan, Amerikaanse musikant: Robert Allen Zimmerman Carmen Electra, Amerikaanse aktrise: Tara Leigh Patrick Whoopi Goldberg, Amerikaanse aktrise/komediant: Caryn Elaine Johnson Larry King, Amerikaanse televisiepersoonlikheid: Lawrence Harvey Zeiger Ben Kingsley, Britse akteur: Krishna Bhanji George Michael, Britse sanger: Georgios Kyriacos Panayiotou Helen Mirren, Britse aktrise en Oscar-wenner: Ilyena Vasilievna Mironova Tiger Woods, Amerikaanse gholfspeler: Eldrick Tonter Woods Marilyn Monroe, Amerikaanse aktrise: Norma Jean Baker Marilyn Manson, Amerikaanse skokrocker: Brian Warner Chuck Norris, Amerikaanse akteur: Carlos Ray Dusty Springfield, Britse sangeres: Mary Isabel Catherine Bernadette O'Brien
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|