Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||||||||
|
Burokrasie knou kind se tweede kans
’NAgtjarige seun wat verlede jaar deur die regering van Swaziland hierheen gestuur is om behandeling vir chroniese nierversaking te kry, se kans op ’n nieroorplanting én tweede lewenskans lyk nou al hoe onsekerder. As buitelandse burger kan Gcinumuzi Sifundza nie in Suid-Afrika op ’n waglys vir ’n nieroorplanting kom nie, sê me. Mandy Toubkin, nasionale bestuurder van Netcare se oorplantingseenheid. Sy enigste kans op ’n oorplanting is as sy ma Nomvula, wat moontlik ’n geskikte skenker is, ’n nier vir hom skenk. Sy pendel nou tussen Johannesburg en Swaziland, waar sy nog kinders het om na om te sien. Geld vir die reiskoste is maar skraps en die oorplanting wat sowat R380 000 kos, kan sy nie bekostig nie. Selfs as sy hier kan kom, moet die departement van gesondheid eers toestemming gee vir ’n oorplanting en streng vereistes geld. Dit sluit onder meer in dat die ontvanger van die nier goeie opvolgbehandeling in sy tuisland kan kry, of gereeld na Suid-Afrika kan kom vir behandeling. Gcinumuzi se ma het hom in 2006 na die Johannesburgse Algemene Hospitaal gebring waar hy vier maande in die hospitaal was en gereeld dialise ontvang het. Van daar is hy einde verlede jaar na die Marang-huis in Northcliff. Kinders met chroniese siektes wat wees, ver van hul ouerhuise af is of wie se huislike omstandighede swak is, kan hier tuisgaan terwyl hulle steeds mediese behandeling ontvang, sê mnr. Pieter Ernst junior, uitvoerende direkteur van die huis. Hy is omgekrap omdat die Swazi-regering nou glo heroorweeg om vir die oorplanting te betaal. “Hoekom het hulle hom dan vir behandeling hierheen gestuur? Ek kan nie verstaan hoekom hulle op so ’n kritieke stadium weier om vir ’n oorplanting te betaal nie.” Die departement van gesondheid sal ook nie Gcinumuzi se oorplantingskoste betaal nie, omdat die Swazi-regering hom hierheen verwys en gevolglik verantwoordelik is vir sy mediese koste, sê mnr. Sibani Mngadi, woordvoerder vir die departement. Dr. Cecil Levy, een van die dokters wat die seun behandel, sê kinders soos hy kan jare danksy dialise oorleef, maar nie onbepaald nie. Ernst hoop nou die Swazi-regering stem in om vir die oorplanting te betaal, óf dat private dokters ingryp om ’n kind wat “deur die krake van burokrasie geval het’’ se lewensnoodsaaklike oorplanting te bespoedig. Skakel Ernst by 0 082 813 7794 of besoek www.marang.org.za.
|
||||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|