Kies jou skool se provinsie
|
||||
|
|
|
||
| Jou wêreld, Jou koerant | ||||
|
Vennote
|
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Beeld se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
|||||||||||||||||||||
|
Bokke lyk moeg op hul voete, sê Guscott
Londen. – Jeremy Guscott, die Britse Leeus-rugbylegende, glo die Springbok-span lyk uit op sy voete op die vooraand van sy toets teen Engeland op Twickenham. Guscott het ook in ’n onderhoud op ’n dinee Suid-Afrikaanse rugbybase gevra om beter gashere as in 1997 te wees wanneer die Britse en Ierse Leeus volgende jaar deur hul land toer. Guscott se mening oor die fisieke toestand van die Springbok-span ná ’n lang seisoen is een wat deur al hoe meer Britte uitgespreek word. “ ’n Speler soos Jean de Villiers het wonderlike vaardighede, maar hy lyk werklik moeg. Bryan Habana lyk gebroke. Dit lyk of hy ’n lang tyd weg van die spel wil hê sodat hy ’n paar maande lank kan gaan slaap,” het Guscott in Londen gesê op ’n Lions Legends-dinee van HSBC, die Britse en Ierse Leeus se vernaamste vennoot en truie-borg. Guscott glo die Bokke maak baie op hul fisieke aanslag staat. “Die Suid-Afrikaners is brutaal, maar hulle is eendimensioneel. As jy fisiek jou man teen hulle staan, begin jy sielkundig met hulle mors,” het Guscott gesê. Sy pleidooi dat die Leeus volgende jaar beter behandel moet word, gaan ook wenkbroue lig. Guscott, wat ’n lid van die seëvierende Leeuspan van 1997 na Suid-Afrika was, sê hulle is sedert hul aankoms stief behandel. “Toe ons aankom, is ons deur Louis Luyt verwelkom. Dit was egter ’n geval van ‘Julle kom hier aan’ en van ‘Daar vertrek julle’. “Ons het die gevoel gekry dat daar geglo is ons is bloot in Suid-Afrika om die Springbokke ’n span te gee om teen te speel. Dit was wonderlik om hom verkeerd te bewys,” het Guscott oor die Leeus se oorwinning van 2-1 in die toetsreeks gesê. Hy sê Suid-Afrika kry volgende jaar die geleentheid om beter gashere te wees. “Toe ons daar was, was Suid-Afrika die wêreldkampioen en volgende jaar gaan dit weer die geval wees, maar hulle moet asseblief die Leeus ag, want dit is ’n span van internasionale gehalte,” het Guscott gesê. Aan die positiewe kant glo Guscott die Bok-keurders het raakgevat deur Ruan Pienaar as losskakel in te span. “Ek hoop werklik hulle hou hom in daai posisie.”
|
|||||||||||||||||||||
|
vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
|
|