Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
DA gaan Zuma gou oor Donen uitvra
Die DA gaan vandeesweek die hantering van die verslag van die Donen-kommissie op ’n vergadering met pres. Jacob Zuma opper.
Koppies-man erg deur eie hond aangeval
’n Boerboel het om onverklaarbare redes sy eienaar verwoed bespring en “stukke vleis” uit sy arms geruk.
  Soek Webwerf Argiewe  


>
Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Volksblad se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Gabeba skep verborge wêreld
Jul 17 2006 08:07:17:337AM  - (SA)  



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

A HUNDRED SILENCES deur Gabeba Baderoon, Kwela, R 95.

Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

GABEBA BADEROON het met haar debuutbundel, The dream in the next body, hoë verwagtinge gewek binne die plaaslike Engelstalige poësie. Sy het sedertdien ook heelwat mediadekking geniet. Die nuwe bundel, haar derde in ’n kort tyd, stel nie teleur nie.

Gabeba (meer bekend by die voornaam, en so ’n mooi naam) skryf ’n soort digkuns wat gevestigde, konvensionele retoriese middele meestal vermy. Onder meer daarom hou haar werk die moontlikheid in van vernuwing (en ook van nuwe slaggate). Dit gaan hier meer om die inhoud van die mymering as om die tegniese spel, meer om die poëtiese ervaring as om die poëtiese woord.

Daar is allerlei soorte “ritmes” waartoe die digter hom/haarself kan wend om ’n gedig tot stand te bring. Taalmatige ritmes, wat geskep word deur byvoorbeeld ryme, binneryme, alliterasie en ander klankeffekte, is slegs één soort vormgewing. Daar is nog die meer “onsigbare” soorte, soos toonverwisselings, narratief, beeldspronge, emosionele en vertelregisters, simboliese patrone, ens. Elemente wat konvensioneel met ander genres geassosieer word, soos karaktertekening, is nog altyd deur die poësie ook ingespan, net meer so in onlangser tye en op wyses wat soms aan die kortverhaal kan herinner.

Soos gesê, verkies Gabeba van hierdie ander middele tot vormgewing bo die meer konkrete taalmiddelle.

Die gedigte lyk op die oog af baie toeganklik – wat lesers sal trek – maar dis misleidend in die geval van die beter verse, wat ’n subtiliteit het wat maklik gemis kan word. Van die heel beste verse word gekenmerk deur ’n metafisiese sprong wat niks minder is nie as asemrowend (“The Give”, “The mirror in the front room”, “The pen”). Ander verse bevat ’n paradoks of ’n insig wat tegelyk soomloos en alledaags, sowel as absoluut verrassend en kraakvars kan oorkom (bv. “Filming swans”, “Twin beds”, “You do not see what it is”, “The night before we married”).

Laasgenoemde gedig toon hoe maklik mens Gabeba op haar vindingrykste kan mislees: “The night before we married/you came to my mother’s house/because we were both afraid/and we sat in the cold dining room/by the table and then on the couch/till the morning.” Met die oogopslag lyk dit of die vers (soos van die mindere verse in die bundel ongelukkig) bloot in ’n atmosferiese bekoorlikheid bly vassteek, maar daar is meer hier. Die volle bestek van die paartjie se vrees gaan juis – ironies en onthutsend – skuil in die wyse waarop hulle dit op daardie vooraand van hul huwelik probeer besweer.

“The pen” se aangrypende afloop, myns insiens ’n briljante moment in die bundel, toon ’n meganisme wat Gabeba met groot welslae gebruik. Oënskynlik lukrake besonderhede word opgestapel, om dan teen die einde van die gedig bondig saamgetrek te word in ’n weerligklap van simboliek. Ek wil nie die gedig weggee nie. Gaan koop die boek. Die alledaagse by Gabeba is nié onskuldig nie.

Hierdie bundel bevat meer geslaagde verse as haar eerste, en verse wat wen in metaforiese helderheid, reikwydte, leesbaarheid en ongeforseerdheid. Maar dis juis laasgenoemde eienskap wat in die mindere verse verlore raak, ongeforseerdheid wat oorgaan in vervlakking. Hier dink ek aan “Security in City Hall”, “The thing you were facing” of “Landscape passing into language”. Die kort-kort verse is amper almal nié op die peil van die bundel nie.

En ’n mens kan sien wat die digter gepoog het in “The student musical” – dis die “opvoering”, die versluierings, van ’n persona wat maak dat mens haar kaal wil sien – maar die paradoks hier kort reikwydte. ’n Andersins goeie gedig soos “Old photographs” moet sonder die laaste reël, die gedig is oorskryf.

In die mymerende aard van Gabeba se poësie skuil ’n ernstige slaggat, ’n hinderlike dreun van sê-erigheid (“This is what I’ll remember”). Haar gebruik van ’n “plat” praatmetrum is meestal vaardig, maar ongewaag en neig tot eentonigheid. Dis soms asof die woorde tussen die ervaring en die leser kom staan. En dis juis wat sy vermoedelik probeer vermy deur die gewone retoriese middele nie te gebruik nie. My slotsom is dat sy laasgenoemde vermyding te ver neem: Die mymerende vers, die innerlike stem, kan nie heeltemal sonder klankeffekte nie.

Dis konteksgedrewe verse dié, die poësie lê nie soseer in die afsonderlike reëls opgesluit nie. Sy loop dus die gevaar om spanning te verloor voor die vers haarself openbaar.

Nietemin, Gabeba ondergrawe op verskeie wyses konvensies. Die plaaslike poësie sukkel nou al lank om die gaping tussen die “klassieke” en die avant garde te oorbrug, die “ernstige” vers en die “gewone” vers, tussen die “ironiese” en die “ikoniese”. Veel kan nog hier gedoen word. Die alledaagse verkry in Gabeba se beste verse ’n treffende metafisiese lading. Lees gerus met sorg. Die titel lyk eers bloot na ’n atmosferiese dekorasie, maar dink aan die muezzin – in die stilte, en in die afwesigheid, lê die grootste aanwesigheid. Dis absoluut verrykend, en ’n plesier om te ervaar, dat die Moslem-kultuur – so integraal aan ons geskiedenis – nou so tuiskom in ons breër letterkunde.

Gabeba is ’n naam wat toenemend deel word van ons poësie, sowel as van die internasionale arena, en dit staan in die teken van ’n groeiende oorspronklikheid.

  • Charl-Pierre Naudé, digter en vryskutresensent

    Bestel hierdie boek deur kalahari.net deur hier te kliek

    Teken in op Volksblad


  • Vind
    Reis en Verblyf
    Werksgeleenthede
    Top Afrikaanse Boeke
    Kom ons Kliek
    ons beveel aan

    ‘Moonshot’ bied deeglike ’n verslag van maanlanding
    Die eerste maanlanding 40 jaar gelede op 20 Julie 1969 is die afgelope weke wyd en syd herleef. Diegene wat in dié giant leap for mankind (ruimtevaarder Neil Armstrong se legendariese woorde) belang stel, het dit waarskynlik tree vir tree op spesialis-TV-kanale gevolg. As dit steeds nie genoeg is nie, skaf Moonshot aan.

    Plaas jou GRATIS advertensie hier!
    SOEK | KOOP | VERKOOP
    vind jou ou skoolvriende


    Kies jou skool se provinsie



    en klik op die eerste letter van jou skool
    A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


    Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer