Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans
DA gaan Zuma gou oor Donen uitvra
Die DA gaan vandeesweek die hantering van die verslag van die Donen-kommissie op ’n vergadering met pres. Jacob Zuma opper.
Koppies-man erg deur eie hond aangeval
’n Boerboel het om onverklaarbare redes sy eienaar verwoed bespring en “stukke vleis” uit sy arms geruk.
  Soek Webwerf Argiewe  
Bloem 14°C - 30°C



>
Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Volksblad se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.

Borgward Isabella: Begin van 'n legende
Feb 07 2005 04:30:51:793PM  - (SA)  
HANS HEESE



  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend

NIE te lank gelede nie het Fred Schnetler oor die Borgward Isabella, wat 50 jaar gelede die eerste keer in Bremen van die produksielyn gerol het, geskryf. Daar kan egter nog 'n paar feite oor die maatskappy se geskiedenis en betrokkenheid in Suid-Afrika vermeld word.

Die meeste Suid-Afrikaners glo dat Borgward - of van sy filiale - eers na ´ die Tweede Wêreldoorlog hul opwagting hier gemaak het en dat dit begin het met Apie le Roux (van Van Roux Motors) en Gerald Wolman wat in 1955 Isabellas begin invoer het. Fred Schnetler het egter reeds geskryf dat 'n aantal Goliath-driewielvoertuie in 1951 deur 'n Johannesburgse firma ingevoer is.

Borgward, wat tot 1938 Hansa- en Lloyd- voertuie gebou het, het egter reeds vóór die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog van sy voertuie plaaslik bemark. Reeds so vroeg as 1936 is Hansa-Lloyd dieselvragmotors deur Diesel Motors van Broad Street 36, Durban, hier bemark.

In 'n advertensie in Der Deutsch Afrikaner van 2 Desember 1936 het die maatskappy die deugde van hierdie dieselvragmotor as 'n "Meesterstuk" besing met sy "eenvoudige, robuuste ontwerp wat die mees moderne tegnologie benut". Indien enigiemand sou twyfel, vra net die eienaar van so 'n Hansa-Lloyd se mening!

Die Durbanse maatskappy moes goeie sake met hul vragmotors gedoen het, want in 1937 het hulle ook die Hansa 1 100-sedanmotors bemark. Die volgende jaar het hulle reeds hande laars in Pietermaritzburg, Lourenço Marques, Somerset-Wes en Paarl gehad. Die goeie verkope van die Hansa- motors was moontlik gemaak deur hul relatief goedkoop pryse omdat die Duits-Suid-Afrikaanse handelsverdrag van 1935 Duitse motors op die plaaslike mark bevoordeel het. Volgens hierdie verdrag - die sogenaamde "wol vir motors" ooreenkoms - was Duitsland bereid om die totale opbrengs van ons wolproduksie oor te neem in ruil vir Duitse motors en produkte. (Dit verklaar dan ook die aankoop van Junkers-vliegtuie deur SAL in die jare dertig ).

Indien Suid-Afrikaners moontlik nog nie 'n Borgward-Hansa vóór 1939 gesien het nie, het ons soldate in Noord- Afrika ten minste moontlik tydens of ná skermutselinge met Rommel se Afrika- Korps met Borgward HL troepdraers te doen gekry.

Die HL het gedeeltelik van rusper-aandrywing gebruik gemaak, maar het voor normale wiele gehad om mee te stuur. Soos die Volkswagen Kübelwagen het die Borgward HL hom in die Russiese moerasse én Noord-Afrikaanse woestyn onderskei.

Maar nader aan die tuisfront: Een van die vooroorlogse Hansa-motors was die pas-afgestudeerde jong predikant, Beyers Naudé, se eerste motor.

'n Mens kan bespiegel dat dit sy skoonpa, eerwaarde Weder van Genadendal, se motor was wat laasgenoemde by die agentskap op Somerset-Wes gekoop het.
   Onder die Hansa- reeks wat ingevoer was, was daar ook enkele Borgward 2000 en 2300 modelle wat eers in 1939 vervaardig is.

Een van hierdie motors is deur Apie le Roux vir publisiteitsredes gekoop en is langs Isabellas uitgestal. 'n Foto van die 1939 Borgward het ook in sy Vanrouxnuus verskyn. Le Roux het 'n uitgawe van hierdie koerant aan Carl Borgward in Bremen gestuur en laasgenoemde het hom in 'n brief bedank vir hierdie publikasie. Borgward het dit met sy handteke ning (in kenmerkende rooi ink) bevestig.

Op 14 Junie 1954 het Le Roux en Wolman (in die teenwoordigheid van Jan Haak) 'n verspreidingsooreenkoms met Carl Borgward in Bremen onderteken. Kort hierna was daar 'n berig in die Britse tydskrif Autocar dat Borgward van plan was om 'n monteeraanleg in Suid-Afrika op te rig. 'n Ooreenkoms is in 1958 onderteken om 'n aanleg aan die Rand op te rig waar Isabellas en vragmotors monteer sou word.

Dat so iets ernstig oorweeg was, was toegeskryf aan die feit dat Suid-Afrika in daardie jaar 22% van die Borgwards wat uitgevoer was, ontvang het - veel meer as wat in die belangrike Amerikaanse mark verkoop was. Hoewel 'n maatskappy gestig is om hierdie taak te onderneem het dit nooit van die grond af gekom nie. Ná die ineenstorting van die Borgward- groep in 1961, het Apie le Roux en Gerald Wolman weer gepoog om die bankrot-verklaarde maatskappy hier te hervestig, maar tevergeefs.

Soos in die geval van Diesel Motors vóór die oorlog, was die eerste Borgwards wat in 1954 ingevoer was, vragmotors en nie motors nie. Van hierdie heel eerste dieselvragmotors is deur Wolman aan die Parow-munisipaliteit van sy Model Garage- tak in Hoofweg, Goodwood, verkoop. Ook, soos in die verlede, het Borgward-advertensies gereeld in die enkele plaaslike Duitstalige tydskrifte verskyn.

Die Borgward Isabella het kort na sy bekendstelling in Suid- Afrika bekendheid verwerf as 'n gedugte mededinger op die renbaan, veral die TS-model.

Teken in op Volksblad


Vind
Reis en Verblyf
Werksgeleenthede
Top Afrikaanse Boeke
Kom ons Kliek
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP
vind jou ou skoolvriende


Kies jou skool se provinsie



en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z


Wie is ons | Kontak ons | Navrae | Adverteer