Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 3°C - 18°C> |
|
Kyk na die ware ANC in SA se belang
Die wegbreek van die Congress of the People (Cope), ontbloot al hoe meer ’n nare kant van die ANC. In die hitte van die nuwe politieke druk in eie gelederekook dinge na buite wat groot vraagtekens plaas. Die toekoms sal wys of dít wat uitmasel, deel van ’n baie gevaarlike neiging soos in Zimbabwe is. Of net ’n tydelike insinking in gehalteleierskap is, soos versinnebeeld deur mnre. Jacob Zuma en Julius Malema, as senior en jeugleier van die ANC. Namate pres. Robert Mugabe by die stembusse uitgedaag geraak het, het hy op ál skadeliker maniere populistiese stemme probeer “koop” – tot sy land eindelik deur politieke boewery ten gronde geknoei, geboelie is. Waar staan Suid-Afrika met die 2009-verkiesing? Pas het mnr. Mosiuoa Lekota, voorsitter van Cope die rasbeheptheid van die ANC stormgeloop – en daarmee die aandag gevestig op ’n kommerwekkende afwyking sedert die Mbeki-era. Lekota het te velde getrek teen Zuma se kritiek dat Cope met Zille se “wit” DA heul. Dit kom nadat Helen Zille en verskeie ander opposisieleiers Cope se nasionale konvensie in Sandton bygewoon het. “Daar was verskeie partye, maar Zuma het die DA uitgesonder, omdat die party deur ’n wit dame gelei word. Dit wys op ’n rasgedrewe mentaliteit,” het Lekota tereg gesê. En Lekota het in die ware gees van nie-rassigheid wat die ANC iewers ná 1994 in ’n groot mate in die praktyk laat vaar het, bygevoeg: “Ek weier om verskoning te vra omdat ek geassosieer word met enige wit Suid-Afrikaner, behalwe as die persoon ’n misdadiger is.” Zuma, wat mooi politieke broodjies bak afhangende van die geselskap waarin hy hom bevind, het met dié fokus op velkleur in sy stryd om nog wegbrekers na Cope te stop, die rasbeheptheid van sy voorganger, pres. Thabo Mbeki, onderstreep. Mbeki het die nare neiging in die ANC begin om die rassekaart te speel, veral as daar geldige kritiek teen die ANC uitgespreek is. Dit het sulke afmetings aangeneem dat iemand soos dr. Allan Boesak al verklaar het ANC het nie-rassigheid laat vaar. Die regressie van Zuma na Mbeki se afbrekende en verdelende ras-taktiek, kom kort op die hakke van die heethoof, Malema, se uitlatings in Kimberley. Malema het met sy waarskuwing oor die armoede wat op ANC-ampsdraers wag wat wegbreek, gewys hoe dit om soustreinry, en nie dienslewering nie, in dié party gaan. Nog ’n ernstige leemte wat Suid-Afrika duur kos. Veral as dit saamgelees word, soos Maandag in ’n hoofartikel uitgewys is, met die afgedankte oudpres. Mbeki se erkenning dat een van die uitdagings vir die ANC is: “Die verslaning van burokratiese parasitiese neigings wat lei tot die misbruik van staatsmag vir selfverryking.” Dis egter nie al skadelike neigings wat die ANC in belang van Suid-Afrika dringend in eie geledere sal moet bekamp nie. Teen die agtergrond van Zuma se raskaart, kom die jongste, beledigende aanmerking teen rugby as sport – en die verdelende verwydering van die Springbokembleem op Springbokke se baadjies. Asook die aanslag teen nou selfs rugbystadions deur mnre. Butana Komphela en Cedric Frolick, albei ANC-LP’s. Frolick se uitlating dat rugby ’n “misdadigersport” is, is ’n nuwe laagtepunt uit ANC-geledere om verdeeldheid, wantroue en onmin aan te blaas. Dit val “toevallig” saam met berigte oor die swak kommunikasie van die regering af, kommer oor geldelike toewysings, gebrek aan deursigtigheid en so meer rondom Suid-Afrika se 2010-sokkerpoging. Dié getjommel voorspel niks goeds vir 2010 nie, tensy daar ’n groot regrukaksie en spanpoging in Suid-Afrika is. Of dié hatigheid teen rugby ’n weerligafleier is of simptomaties van iets dieper, dis ’n ope vraag of ANC-politici soos mnr. Makhenkesi Stofile, minister van sport en ontspanning, nou tevrede sal wees. ’n Regering bemoei hom nie normaalweg met sportorganisasies se sake nie, maar skep ’n klimaat waarin alle sportkodes in alle gemeenskappe en op alle vlakke in die land kan gedy. Dit beteken die skep van sportgeriewe en ’n goeie infrastruktuur. Stofile doen dit nie en verkies om sport, veral rugby, te gebruik om verdeeldheid te saai. Suid-Afrikaners wil graag hê hul sportlui moet presteer in aangename omstandighede. Terwyl daar politici soos Stofile is, sal dit nie gebeur nie. Daarom is dit moeilik om te glo die ongehoorde inmenging gaan ophou. Bekommerde Suid-Afrikaners van alle rasse sal met die oog op die verkiesing volgende jaar fyn moet dophou wie die ware ANC onder ’n Jacob Zuma en Julius Malema is. Dis beslis nie dieselfde party as dié een in die aanloop tot en met die wonder van 1994 se nie-rassige, demokratiese triomf in Suid-Afrika nie – en wat die beste in die reënboognasie te voorskyn kan bring nie. Ons kosbare jong demokrasie verdien iets beters.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|