Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 3°C - 18°C> |
|
Duisende matrieks wag steeds op punte
Meer as 10 000 matriekleerlinge landwyd het teen gister nog nie hul volledige eindeksamenuitslae ontvang nie. Maar Suid-Afrika “moenie bekommerd wees nie”, het mnr. Lunga Ngqengelele, nasionale onderwyswoordvoerder, gepaai. Hy het die publiek verseker alle uitslae gaan teen einde vandeesweek beskikbaar wees. “Ek verseker jou hulle gaan nie teleurgesteld wees nie,” het hy beslis gesê. Volgens Ngqengelele het mnr. Duncan Hindle, direkteur-generaal van onderwys, ’n ondersoek oor die hantering van die uitslae begin. Intussen sit ouers en leerlinge met hul hande in die hare omdat die toekoms skielik onseker lyk. Chardette Cohen, voormalige hoofmeisie van die Hoërskool Evander naby Secunda, se toekoms as dokter is moontlik in die gedrang omdat sy nog op haar punte wag. Sy wou oor die naweek al by haar nuwe blyplek op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se kampus intrek, maar omdat sy nog nie haar wiskundepunte het nie, gaan sy dalk nie keuring kry om medies te studeer nie. Nou sit hulle en wag, het sy moedeloos gesê. “Dit frustreer my, want ons kan niks daaraan doen nie. Die departement gee ons ook nie antwoorde nie. Ek is al moeg gebid.” ’n Dosent aan die UV het bevestig hulle weet van Chardette se situasie, maar kan niks anders doen nie as om te wag totdat die departement haar punte bekend maak. “Ons hoop en bid maar ons kry die punte betyds,” het sy gesê. Nog ’n voormalige matriekleerling moes hoor sy aanstelling as leerlingvakman by ’n myn in Lydenburg is in die gedrang weens sy onvolledige uitslae. Juan Landsberg (18) se hande is intussen afgekap. Talle leerlinge in Limpopo wag ook steeds op hul uitslae. ’n Ingeligte het gesê in Seshego, buite Polokwane, het leerlinge nog nie hul punte vir Engels ontvang nie. By die Merensky High School in Tzaneen wag sommige matriekleerlinge nog op hul punte vir landbouwetenskap. Die matriekleerlinge wat Afrikaans as ’n tweede taal geneem het, het ook nog nie hul punte nie. Etlike skoolhoofde het eergister na die onderwysdepartement in Polokwane (Pietersburg) gegaan om te probeer uitvind hoekom die punte nog nie beskikbaar is nie. “Een van die skoolhoofde het drie uur gewag voordat sy gehelp is,” het Volksblad se bron gesê. Mnr. Ndo Mangala, woordvoerder van Limpopo se onderwysdepartement, het gister nie op talle boodskappe van Volksblad gereageer nie. Die telefone by die departement is nie beantwoord nie. Dit is onbekend wanneer die punteprobleme hier opgelos sal word. In Mpumalanga is daar sowat 5 000 leerlinge wat nog nie hul volledige matriekuitslae gekry het nie, het mnr. Jasper Zwane, onderwyswoordvoerder, gesê. Volgens hom het skole in die Gert Sibande-distrik (Oostelike Hoëveld) wel gister hul finale uitslae ontvang. Zwane het gister beloof alle uitslae en probleme in dié provinsie sal teen Vrydag afgehandel wees.
|
||||||||||||||
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|