Kies jou skool se provinsie
| Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante | NetAfrikaans | ||||
|
|
|
||
Bloem 14°C - 29°C> |
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Volksblad se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||
|
D-Arende klop Kobras in net drie dae
KIMBERLEY. – Die krieketspan van die Gestetner-Diamant-Arende het Saterdag hier op die De Beers-ovaal die verdediging van sy SuperSport-titel op ’n hoogtepunt begin deur die Kaapse Kobras binne drie dae te klop. Die tuisspan het met 86 lopies gewen, en 16.42 punte (2.42 kolf, 4 boul, 10 wen) uit dié sege verdien teenoor die Kobras se drie boulpunte. Die Diamant-Arende se kaptein, Boeta Dippenaar, het gesê dit was ’n baie goeie sege en hulle sal daarop wil voortbou. “Rilee (Rossouw) het in ons tweede beurt uitstekend gekolf, maar die boulers het ook goed geboul. Oor die algemeen was dit ’n goeie spanpoging.” Dippenaar, wat met sy kapteinskap beïndruk het, glo die jong spelers soos Rossouw, CJ de Villiers en Reeza Hendricks sal baat vind by die blootstelling teen ervare spanne. Nadat die Diamante-Arende in hul tweede beurt vir 129 lopies uitgehaal is, is die besoekers die taak gestel om 301 vir ’n oorwinning aan te teken. In die tuisspan se tweede beurt was dit Rossouw wat beïndruk het. Hy het gaan kolf nadat die eerste paaltjie vroeg gekantel het, en was aan die einde onoorwonne met 63 lopies. Dit was ’n merkwaardige buiging vir dié speler wat 219 minute voor die penne deurgebring het en tien grenshoue gemoker het. Hy het koelkop gebly, terwyl sy mede-kolwers met eentonige reëlmaat kleedkamer toe gestuur is. Die enigste ander kolwers wat dubbelsyfers behaal het, was Thandi Tshabalala (17), De Villiers (14) en Hendricks (10). Die Kaapse Kobras se kolwers het beter gevaar in hul tweede kolfbeurt, maar is vir 214 lopies uitgehaal. Hul vertoning was werklik teleurstellend. Die kolwers het veral teen die swaaiboulers gesukkel. ’n Vennootskap van 42 lopies om die sesde paaltjie tussen Justin Ontong (35) en Vernon Philander (42) het gedreig om die Diamant-Arende van ’n sege te weerhou. Dillon du Preez, wat verlede seisoen ’n rekord 55 paaltjies in die reeks laat kantel het, het met voortreflike boulwerk vir Ontong been voor paaltjie betrap. Du Preez en De Villiers het toe elk sewe paaltjies in die wedstryd ingeoes. Vroeër het Andrew Puttick (29) en Henry Davids (31) ook vasgeskop. Teen die einde was dit net Rory Kleinveldt (21) en Claude Henderson (23*) wat nog iets met die kolf uitgerig het voordat hul span se kolflys weer in duie gestort het. Ryan Bailey, wat in die tuisspan se eerste beurt 91 lopies gekry het, het twee paaltjies ten koste van 32 lopies ingeoes en is as die speler van die wedstryd aangewys. Die ander paaltjies is deur Du Preez (3/28), De Villiers (3/70), Victor Mpitsang (1/18) en Con de Lange (1/36) ingeoes.
|
||||||||||||||
|
Vind
vind jou ou skoolvriende
Kies jou skool se provinsie |
||||||||||||||||||
|
|