| News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans | ||||||
|
|
|||||
|
|
||||||
| Voorblad | ||||||||||||
| Meer Nuus | ||||||||||||
| Suid-Afrika | ||||||||||||
| Sport | ||||||||||||
| Wêreld | ||||||||||||
| Sake24 | ||||||||||||
| Weekliks | ||||||||||||
| Kommentaar/Opinie | ||||||||||||
| Hoofartikels | ||||||||||||
| Rubrieke | ||||||||||||
| Briewe | ||||||||||||
| Invoegsels | ||||||||||||
| Tydskrif | ||||||||||||
| Rapport Boeke | ||||||||||||
| Motors | ||||||||||||
| Reis | ||||||||||||
| Streeknuus | ||||||||||||
| Leef in Gauteng | ||||||||||||
| KaapRapport | ||||||||||||
| Multimedia | ||||||||||||
| Fotogalerye | ||||||||||||
| Blogs | ||||||||||||
| Redaksieblogs | ||||||||||||
| Leserblogs | ||||||||||||
| Allerlei | ||||||||||||
| Lotto | ||||||||||||
| Nuusbriewe | ||||||||||||
| Gewildste Stories | ||||||||||||
| Promosies | ||||||||||||
| Loopbane24 | ||||||||||||
| Staatsdiensnuus | ||||||||||||
| EPWP | ||||||||||||
| Stalmaats | ||||||||||||
| City Press | ||||||||||||
| Sondag | ||||||||||||
| Weer | ||||||||||||
|
||||||||||||
| Meer oor Rapport | ||||||||||||
| Wie is ons | ||||||||||||
| Argiewe | ||||||||||||
| Bestel foto's | ||||||||||||
| Kontak | ||||||||||||
| Redakteur | ||||||||||||
| Web-redakteur | ||||||||||||
| Nuusredakteur | ||||||||||||
| Brieweredakteur | ||||||||||||
| Ombudsman | ||||||||||||
| Stuur jou video | ||||||||||||
| Adverteer | ||||||||||||
| Advertensiebestuurder | ||||||||||||
| Nog Kontaknommers | ||||||||||||
| Rapport-tariewe | ||||||||||||
| Rapport.co.za-tariewe | ||||||||||||
| Aflewerings | ||||||||||||
| Teken in | ||||||||||||
| Klagtes | ||||||||||||
| Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Rapport se webwerf. Kliek hier vir ons nuwe webwerf. |
||||||||||||||||
|
01/03/2008 14:24 - (SA)
Hanlie Retief gesels met Kovsie-rektor Frederick Fourie
Die eerste keer toe hy daardie video sien… sién hoe die skoonmakervroue op die atletiekbaan hardloop in hul groot blou oorrokke, swaarlywig, ongemaklik, met Chariots of Fire in die agtergrond, tóé het Kovsie-rektor Frederick Fourie begin huil. “Die vroue se vernedering het my geruk.” En dis nog voor hulle, knielend, die urinebrousel moes afsluk. “Hoe kan iémand sê dis maar oukei, dis net pret? Studéntepret deur mense belaglik te maak vir ’n politieke punt teen integrasie? “Ek wil by daardie vier Reitz-manne hoor: hoe dink húlle voel hul mede-Kovsie? Die seun van een van daardie skoonmakers op die video? Hy bly in een van ons koshuise. Hoe seer moet dit hóm nie maak nie.” Ons sit in die hoofgebou. Woensdag. Onder ons lê die boomryke kampus verlate ná al die optogte en plundery. Af en toe ry ’n polisiekar verby. Koshuise is gegrendel. Reitz Kamerwonings is met boomtakke en sitkamermeubels afgesper. Dis ’n stilte soos ’n wapenstilstand, soos in die oog van ’n storm. Die anatomie van ’n rasseramp. En Frederick Fourie is die dokter wat daar staan nadat ’n slagaar op die teatertafel gebars het. Die bloed spuit orals, en hy druk net toe. Sy universiteit bloei. “Die skade is verskriklik. Hierdie vier het nie net die universiteit in die steek gelaat nie, maar ook hul eie toekoms. Maar ek sê dit nie beskuldigend nie. “Die hartseerste is dat ou vooroordele teenoor Afrikaanse universiteite en Afrikaners nou versterk word. Ons is nou weer van vóór af verdag, die Vrystaat van vóór af ’n karikatuur.” Van sy senior swart kollegas se ma’s was skoonmakers, vertel hy. “Hulle is stúkkend oor hierdie video. Dit maak dekades se pyn weer los, van hoe jou ouers onder apartheid behandel is. Daai pyn verstaan wit mense nie. “Wittes is ontsteld oor die video, maar vir die swart gemeenskap is dit pyn en afgryse dat sulke rassisme nog kan bestaan, hiér, in die koshuis van ‘n beskaafde, goeie universiteit.” Maar iewers in hierdie chaos, voel dit vir hom, is daar tóg die begin van ‘n kampuswye handevat. “Hierdie video was ’n katarsis. My gebed is dat hierdie handevat ’n breë koalisie word – nie net teen rassisme op die kampus nie, maar óók teen die onderliggende ons-hulle-ingesteldheid wat nog déél van baie van ons studente is.” Die video is dalk ’n geïsoleerde insident, herhaal prof. Fourie, maar dis nie ’n geïsoleerde ingesteldheid nie. “Dis ook nie beperk tot hierdie universiteit nie. Baie van die probleme in koshuise elders is maar presies dieselfde. “Dís die hartseer ding. Om te sien hoe diép dit nog sit. “Ek sê nie alle wit studente is so nie. Maar die vier wat die video gemaak het, is huiskomiteelede, leiersfigure. Dis ordentlike kinders, sogenaamd, wie se ouers nou hul kinders se foto’s lewensgroot in koerante moet sien. “Gisteraand vra iemand my: ‘is hierdie ouens nie in kerke nie? Waar’s hul gemeentes? Waar’s hul gesinne?’ Ons universiteit is 90% Christelik. Wat sê ons hiervan? “Dís die mense wat oor hierdie video moet besin. Dis nie die universiteit se taak nie. Ons moet kinders vir die professionele wêreld voorberei. In hierdie oorgang moet jy wel veel meer doen as jou gewone taak. En ek… aanvaar daardie taak.” Iewers, sê hy, is daar ’n siekte in manskoshuise wat maak dat die goeie dinge waarmee eerstejaars daar aankom amper óntleer word. “Die portuurdruk van die seniors draai eerstejaars se koppe en laat hulle glo: boys, dis hoe jy moet wees as jy ’n ware Reitzman, of watookal, is. “Saam daarmee is die hele ding van hoe jong mans hul rol in die lewe sien. Twintig is ’n ingewikkelde ouderdom: testosteroon, tradisie en territorium. “Dis so by wit én swart. Maar by ons wit studente het dit nou ’n weerstand geword teen verandering van ‘heilige’ koshuistradisies, soos hulle dit stel.” Kyk egter dieper, sê hy, en jy besef “dit gaan nie oor ‘n paar praktyke in ’n koshuis nie, maar oor wit jong mans wat bedreig voel.” Wit manstudente wat nie wíl integreer nie? “Wit mense met ’n diepgewortelde weerstand om saam met swart mense dinge te doen, saam met hulle te bly, naby hulle te wees. En ek sê dit nie beskuldigend nie. Dis ’n probleem waarmee ons worstel. “Ek was ongemaklik in die begin oor die politieke argumente rondom transformasie en koshuisintegrasie. Daar’s die argument: alles op kampus is reeds geïntegreer, kan ons nie maar saam met ons eie mense huis toe gaan nie? Maar ’n koshuis is nie ’n huis nie, dis ’n openbare instelling. Jou kamer is jou huis.” Dis waar vrye assosiasie van toepassing is. Hy vertel hoe geskok hy was toe derde- en vierdejaarstudente laasjaar vir hom gesê het hulle’s nie gereed om saam met swart mense te gaan werk nie. “Ek kon net antwoord: maar dan het ons julle gefaal as universiteit. “Dit het my finaal oortuig dat ons as opvoedkundige instelling die koshuise moet integreer. Dis in belang van hul lewens en loopbane om gemaklik te wees met swart mense, om pêlle van hulle te maak, om met hulle te netwerk. Wat help dit om jou kind groot te maak om in Orania te gaan bly?” Fourie moet nou die kastaiïngs uit die vuur krap van ’n beleid van vrye assosiasie wat hy geërf het, ná die oorspronklike integrasiebeleid in 1997 weens kampusgeweld gestaak is. “Ja, maar ek wil nie veroordeel wat tien jaar terug besluit is nie. Mense gaan oor nog tien jaar seker sê wat de duiwel het Fourie gedink doen hy…” Die huidige rasseprobleme op die kampus verbaas hom glad nie. “Ek het nog erger verwag,” sê hy doodrustig. “Ek sê dit nie ligtelik nie, maar in 1997 was daar gewéld oor integrasie. Nou’s daar protes.” En nou word gesê Kovsies is die laaste apartheidsuniversiteit… “Dis onbillik. Mandela het ons ’n transformasiemodel genoem, ons het voor enige ander universiteit begin met parallelmedium-onderrig, taaldiversiteit, respek vir vroue, geïntegreerde bestuur, als. Net nie koshuisintegrasie nie. Nou’s al die goeie werk deur die modder gesleep.” Hy bly ‘n oomblik stil. “Terugskouend was dit seker dom gewees… “Ek het vir die wit studente laasjaar gesê: julle stry nou om iets te behou, ’n lewenstyl of ’n koshuistradisie. Oppas dat julle nie presies die teenoorgestelde bereik nie. Dat julle júis jul koshuise, én die universiteit, vernietig omdat julle die beeld uitdra van ’n soort plek waarheen ouers nie hul kinders wil stuur nie. “Natuurlik is daar wonderlike tradisies in ons koshuise, Kader Asmal het nog opgemerk dis iets wat ons universiteit spesiaal maak. Ek vra net: kyk watter tradisies is versoenbaar met ’n diversiteitsomgewing, met ’n menseregte-omgewing. En raak ontslae van die res.” Daar’s kritiek dat swak bestuur van die integrasieproses bygedra het tot die rassekrisis. Dit was té plotseling. Té min inkoop aan studentekant. “As jy iets wil sluk, moet jy tog êrens ’n hap vat. En ons vat kléin happies: net 30% van eerstejaars in voorgraadse wit koshuise moet swart wees, en andersom vir swart koshuise. Dis maar sowat tien studente – minder kán jy nie, want dan isoleer jy studente, en word hulle juis geviktimiseer.” ’n Groot rede vir die gesukkel om die integrasiebeleid toegepas te kry, sê hy, is die Vryheidsfront Plus (VF-Plus) se opruiende beleid teen “gedwonge integrasie”. “Die VF-Plus het die heel grootste skade aangerig. Hulle het die wit studente voorgesê om nie deel te neem aan die proses nie, maar eers vir die hofuitspraak te wag (die VF-Plus het die universiteit oor hul integrasiebeleid hof toe gevat). “Vyf maande lank is hul denke verlam. Toe die saak teruggetrek is, was dit eksamens en die jaar verby. Nou sê hulle ons het hulle nie voorberei nie… “Ons het die VF-Plus se impak op kampus waarskynlik onderskat, dat politici dit van buite af soos ’n veldslag sou voer. Daardie studente en hul politieke adviseurs is medeverantwoordelik aan wat hier gebeur het.” Nou gaan nog meer Kovsies hul tasse pak en pad vat Noordwes-Universiteit toe… die ou Potch word deur konserwatiewe wittes gesien as die alternatief vir Kovsies. Ook swart ouers gaan verbyhou met hul kinders, weg van dié rasse-kookpot. “Ons het waarskynlik reeds vanjaar wit studente verloor. Ons moet eenvoudig nou net vasbyt. Dis dalk hoekom die afgelope week my nie so erg ontstel het nie. Die video-debakel is nie ’n rede om op te hou nie. Dis juis ‘n rede om aan te hou.” Hierdie rassebom gaan hom waarskynlik definieer as rektor? “Moontlik.” Maar ’n klomp ánder dinge het dié onkonvensionele rektor in die verlede reeds gedefinieer. Soos sy groot sukses, destyds, met sy radikale finansiële draaistrategie vir die universiteit. Verlede jaar, ure ná die goedgekeuring van sy koshuisintegrasie, het die UV-Raad sy termyn eenparig verleng. Vertroue. Gisteraand, ná ’n dag van storms, het Frederick Fourie vir homself ’n whisky geskink. Enkelmout. G’n integrasie in sy’ glas nie! Vroeër in die week kon Richard Strauss se Rosenkavalier hom effens uit die onweer lig. Dis moeilik. Maar hy’t gewéét wat vir hom voorlê. “Ek bly in dié land, want hier maak mens geskiedenis. Elke dag. En om geskiedenis te maak, ís rof… maar iemand moet dit maak.”
|
||||||||||||||||
![]() |
||||||||||||||||
|
|
||||||||||||||||
|
|
|||||||||||
![]() |
|||||||||||
|
|
|||||||||||
|
|||||||||||
|
|