News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Hotagter
Jaag jou bloeddruk op met die pragfoto's van dié week se agterbladmodelle.
Kurt breek weg vir groot vraag
Kurt Darren se loslappiedae is amptelik verby...
Teken in op Rapport
  Soek Webwerf Argiewe  
Voorblad
Meer Nuus
Suid-Afrika
Sport
Wêreld
Sake24
Weekliks
Kommentaar/Opinie
Hoofartikels
    Rubrieke
Briewe
Invoegsels
Tydskrif
Rapport Boeke
Motors
Reis
Streeknuus
Leef in Gauteng
KaapRapport
Multimedia
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Promosies
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
Min Max
BFN 3°C 18°C
KPT 13°C 16°C
JHB 1°C 16°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Argiewe
Bestel foto's
Kontak
Redakteur
Web-redakteur
Nuusredakteur
Brieweredakteur
Ombudsman
Stuur jou video
Adverteer
Advertensiebestuurder
Nog Kontaknommers
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Aflewerings
Teken in
Klagtes

29/11/2008 14:38  - (SA)  
Hanlie Retief gesels met Elma Postma
    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend
Foto: Sharief Jaffer

Doer terug met haar eerste, bewerige woorde in 7de laan, “niemand het nog gekla nie”, het Dezi lêplek gekry in die volk se harte.

Nou’s dit agt jaar later, en niemand het nog ’n wóórd gekla nie.

Inteendeel.

Al is sy nou weer Elma Postma, tussen Ontbytsake en die skaapkrale en windpompe van Boer soek ’n vrou bly sy die volk se soetlief.

Terwyl sy haar tuis maak op die gastehuis se bank, met haar tas onoopgemaak op die bed en die laaste loom son oor ’n windstil Kampsbaai, wonder jy: wat wéét die volk?

So jy vra haar om gou-gou die sin te voltooi: Ek is nié die volk se soetlief nie, want …

“ … want ek is ’n hardegat, siniese …” en haar laggie sluk haar sin in.

“Ek’s onafhanklik, soms kick-ass ek, soms is ek ’n verskriklik konserwatiewe koek, soms droom ek van ’n lewe op die rooi tapyt as ’n Hollywood-ster en soms wil ek net ma wees by die huis. Soms wil ek diamante dra en soms wil ek net op die gras lê en sterre kyk. Ek is nie net soetlief nie, ek’s ’n pakket.”

Vyfster-chardonnay dus, verpak as bokswyn …

As sy boonop glimlag dat die kuiltjies diep trek, dan wonder jy die grootste wonder: Hoekom het só ’n pakket dan nog nie ’n kêrel nie?

“Want ek krý nie een nie! Ja, ek is moeilik, picky. ’n Man moenie vir my sê wat om te doen nie. Die meeste van hulle doen dit!”

Sug. Dieééép.

“Hy moenie my op ’n voetstuk sit (met die naamplaatjie Dezi) nie. Hy moenie van my verwag om my werk te los nie …” Klang-keklang, slaat sy die hekke een vir een toe.

Één les oor die liefde wat die Boer-reeks haar geleer het: “Bly weg van verhoudings af!” Sy lag sinies.

Die Dezi-ding het vir haar skoon ’n dilemma geword: “Al die mans wil hê ek moet Dezi wees, hulle stel nie belang in Elma nie. Ek weet nie meer wie om te vertrou nie.”

Maar as daar iemand opdaag, bietjie Brad Pitt, bietjie Andy Garcia, met die rebelsheid van die Camel-man, dan’s daar vir hom hoop, spot sy.

Sy glimlag misterieus.

“Ek het vandag langs ’n man in die vliegtuig gesit. So ’n gawe man met sagte oë en ’n mooi glimlag. Weet jy wat dink ek is sexy? As ’n man diep in my oë kyk en my probeer verstaan, en dink ek is mooi …”

Wat’s die mees romantiese ding wat iemand al aan haar gedoen het?

Sy kan nie onthou nie. Wraggies nie. Sy’t eeue laas ’n verhouding gehad. Anrich Herbst is al twéé jaar geskiedenis.

So onse soetlief slaap snags alleen …

“Darem nie heeltemal alleen nie …” Swanger woorde. Swangermákende woorde …

“Sy naam is Al Capone,” bieg sy dan. “ ’n … Teddiebeer.” Giggel haar grougroen oë skrefies.

Dis seker ’n grappie?

“Nee, rêrig, ek het nog altyd ’n beertjie gehad. Dis seker ’n bietjie van ’n … afwyking?” Sy glimlag. “Kan ek maar hierdie goed sê?”

Maar alte seker!

“Ek práát met my teddiebeer! Ag, hy lê net so in my nek, my maatjie elke nag.”

Mans, natuurlik, dink nie altyd dis so vreeslik oulik nie. Toe een haar teddiebeer op ’n keer van die bed afsmyt, het sy hom vinnig op sy plek gesit: “Jy kán dit nie doen nie, en dis nie ’n ding nie, hy’t ’n náám!”

Vir seker het sy hekkie net daar toegeklap. Gefnuik deur Al Capone. En die Godmother. One time.

“G’n wonder baie mans het al vir my gesê ek’s bietjie vreemd nie!”

Makie-sakie, dié pakket op die poeierblou bank se gesiggie hóórt op ’n koekblik.

Sy’s snaaks, sy’s skerp en sy steek heerlik die draak met haarself.

Sy sal nooit aan iets soos Boer soek ’n vrou deelneem nie. Sy hou té veel van wen, kry té maklik seer en “jy stel jouself hopeloos té bloot”.

Maar nou’s al daai boere in élk geval skeelverlief op Dezi, oeps Elma, nè?

Is nie waar nie, keer sy ondeund. Sy’s aangesê om “positief neutraal” te bly in die reeks, g’n staan en verlief raak op een van hulle nie.

“Maar ek sal nie sê daar’t níks gebeur hier binne my nie.”

O?

“Ek’t ’n paar keer nogal gedink: mmm, óúlike man … En as ek van sy plaas wegry: ag sê nou net … Maar dan los ek dit maar.”

Ai, die komplikasies van TV-verhoudings …

In 7de laan moes sy heeltyd hoor: “Wat het jy aan die arme Jan-Hendrik gedoen?”

Nou vra hulle haar: Watter een is jóú boer? Toe, vertel!

Dan sê sy liefies “ag oom, ek maggie sê nie, dis my geheim, maar dis nié Joachim nie!”

Sy vertel: Toe sy destyds met Jan-Hendrik “getrou” het, was dit vir haar vreemd-werklik. “Hy’t met trane in die oë vir my voor die kansel gewag …”

Haar mondhoeke trek net so effens op. “Toe knaag dit ewe skielik in my agterkop: dalk is dit die enigste keer in my lewe dat ek so in die kerk gaan afstap …”

Sy’t nooit verwag dat die hele celebrity-ding haar lewe só sou oorneem nie.

“Jy raak nooit gewoond daaraan nie. Eintlik raak dit net erger; hoe ouer jy word, hoe meer besef jy: dis so nié belangrik nie.”

So plastiek. “Mense ding heeltyd mee om jou aandag, jy doen verskriklik moeite om na hierdie absoluut fantastiese mooi mens te lyk, jy eet vir ’n week niks net om in daai rok te pas. Gmf, deesdae is ’n week nie eens meer genoeg nie – met al daai koek en plaasbrode …”

Mét appelkooskonfyt.

Maar nes jy dink jy’s bekend, gaan sy voort, “land jy by die Sama-toekennings om ’n ou stukkie aan te bied. Hulle’t my kom haal in hierdie grênd kar, ek het ’n R24 000-rok aangehad – en toe ek op die rooi mat uitklim, toe weet niémand wie ek is nie.”

Skielik buite die klein wêreld van Afrikaanse TV, skielik … niks.

“Ek sal nóóit dat bekendheid na my kop toe gaan nie. In die begin het ek skoon lighoofdig geraak as mense in ’n winkelsentrum kliphard fluister: ‘Kyk, dis Dezi.’ Dit voel so … onwerklik.”

Daar’s ook die donker kant. Suggestiewe oproepe. Of, soos onlangs, in ’n restaurant, waar ’n oom Elma om die lyf gevat en sy hand omtrent in haar lies gedruk het. “Ek vra hom: vat jy altyd so aan vreemde vroue? En hy sê njeeag, maar jy’s mos Dezi. En ek sê vir hom nee, ek is ’n vrou. ’n Mens. Jy kan g’n jou hand in my lies druk nie.

“Dis moeilik, want dis ménse wat jou gebring het waar jy is. Waar trek jy die streep tussen vriendelik en ferm?”

Paradokse.

Déél van haar lewe. Nog altyd.

Die sepiester wat na Classic FM luister en op 26 met tjello-lesse begin. Die skaam boepensmeisietjie wat eerder agter haar maatjies weggekruip het – maar vóór in die koor was met redenaarskompetisies, trompoppies.

“As die ligte aangaan, dan per form ek. Ek weet nie hoekom nie, miskien word ek dan iets waarvan ek anders net sou droom.”

Met die wegstap uit die sepie-borrel van 7de laan het sy onseker gewonder: Kan ek enigiets anders doen?

Introvert. Sy. Wat reëls kan opsê, maar nie haar eie woorde vertrou nie. By Ontbytsake, voor ’n onderhoud met Chris Stals, moes hulle vir haar Rescue Remedy injaag. En toe gaan die ligte aan. Showtime. En Elma skitter.

Sy vertel van die road trip in haar Corsatjie, die aand in die berge by Sabie met ’n bottel wyn en die kaggel wat sy self moes brandsteek. Vingeralleen, vrolik van al die wyn, hét sy daardie aand voor haar eie vuur gesit.

“Oral vat ek my dagboek saam en ek skryf. Al van standerd vyf af. Ek hou daarvan om te ry en te dink.”

Sy’t onlangs die Annie Leibowitz-fliek gesien. Die Annie-kind wat so rondgetrek het dat sy die wêreld naderhand deur die motorvensterraam begin sien het.

“Dit was vir my so mooi. Ek het daar uitgestap en gedink: dis mý lewe. Rame, oral: kamera-rame, karre, vliegtuie … Prentjies, oral, al is dit net vir ’n oomblik, herinneringe wat verbygaan.

“Want al wat jy het, is nóú, hierdie oomblik, hoe die lewe nóú onder jou hande voel.”

Toe sy 30 geword het – 6 September – was sy in Victoria-Wes. Sy’t in die deur van die gastehuis gaan sit met die nag en die Karoo-koue om haar. Die kerkklok het die slae afgetel … tot sy geweet het: nou’s ek dertig.

Gestroop van alles, net in stilte, in harmonie met jou binneste.

Nie Dezi, of jong boere se fantasie, of ’n bekende gesig op TV nie.

Net: Elma Postma.


 
Maar lees gerus eers oor Rapport se aanlyn-etiket.
Elma - Hy is daar!, 01/12/2008, Rita
Hi Elma, Onthou net hy is daar, iewers op die aarde - die regte oomblik moet net aanbreek en jy SAL hom ontmoet en weet dat jy weet ....dis hy! Bly altyd net soos jy is!!
Elma my droom, 30/11/2008, Anton
Super vrou en deksels beeldskoon. Hoe en waar kan ons ontmoet? Dit sal die einde van jou 'weird' lewe beteken en 'n gans nuwe era inlui. Die hemel vir jou en my.
Hanlie Retief gesels met Elma Postma, 30/11/2008, Rika
Wat min oe gesien het nie, wat min ore gehoor het en wat in min mense se harte opgekom het, dit het Hanlie Retief weereens perfek neergepen vir haar lesers wat Elma net as Dezi ken. Hanlie, jy skitter! NS. Wat van 'n onderhoud: Hanlie Retief gesels met Hanlie Retief? Van 'n bewonderaar.
Elma Postma, 30/11/2008, Netti Botha
Alhoewel ons familie is,( jou Oupa Ignatius le Roux, was my eie neef) ken ons mekaar gladnie. As ek die 'geselsie' van jou lees Elma, ag kind, dan weet ek ons IS fam.... vra vir Ouma Bettie wie ek is en sy sal jou vertel. Ek is trots op jou en bid dat jy eendag 'MR.RIGHT' sal ontmoet...Wat jou sal lief he, teddie en al!!! Jy is pragtig.
 
Hierdie kommentaar fasiliteit is nou gesluit.

Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
DirectAxis-Lenings
Reis en Verblyf
Motor- & huisversekering
Kry R100 gratis by Piggs Peak
Werkgeleenthede
Afrikaanse boeke
Rapport-foto's
    Stem
Steun jy die staatsdiensdokters se protesoptrede?
Ja, hulle word te min betaal.
Ek steun die dokters, maar nie die staking nie.
Nee. Hulle verdien genoeg.

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo