News24 | Die Burger | Volksblad | Beeld | Sake24 | Jou Geldsake | LitNet | KykNet | Streekkoerante | NetAfrikaans
Jason meer as net 'Idol'
Aanvanklik was hy een van die enigste ouens tussen vanjaar se Idols-finaliste wat nie 'n strykyster (hair straightner) vir sy hare gehad het nie...
Birjani die moeite werd
Birjani is 'n gewilde Indiese en Kaap-Maleisiese rysgereg vir spesiale geleenthede. Hier's 'n resep vir maklike, maar heerlike visbirjani.
Teken in op Rapport
  Soek Webwerf Argiewe  
Voorblad
Meer Nuus
Suid-Afrika
Sport
Wêreld
Sake24
Weekliks
Kommentaar/Opinie
Hoofartikels
Rubrieke
Briewe
Invoegsels
    Tydskrif
Rapport Boeke
Motors
Reis
Streeknuus
Leef in Gauteng
KaapRapport
Multimedia
Fotogalerye
Blogs
Redaksieblogs
Leserblogs
Allerlei
Lotto
Nuusbriewe
Gewildste Stories
Promosies
Loopbane24
Staatsdiensnuus
EPWP
Stalmaats
City Press
Sondag
Weer
Min Max
BFN 18°C 31°C
KPT 19°C 24°C
JHB 13°C 27°C
Meer oor Rapport
Wie is ons
Argiewe
Bestel foto's
Kontak
Redakteur
Web-redakteur
Nuusredakteur
Brieweredakteur
Ombudsman
Stuur jou video
Adverteer
Advertensiebestuurder
Nog Kontaknommers
Rapport-tariewe
Rapport.co.za-tariewe
Aflewerings
Teken in
Klagtes

Jy is besig om toegang te kry tot geargiveerde inhoud van Rapport se webwerf.
Kliek hier vir ons nuwe webwerf.
 
06/08/2005 16:14  - (SA)  
Bacchus Nel teken prentjies met woorde en note
Deur Marguerite Robinson    

  Druk artikel
  E-pos storie aan 'n vriend


"As die engeltjies sien die kind struggle 'n bietjie, dan skop hulle jou in 'n rigting in."

Stephen Nel het nie 'n idee gehad van wat hy wou doen nie. Hy het versekering in Standerton verkoop, "want my pa was dik om my gesig by die huis te sien en het vir my werk by 'n vriend gekry". Dit was so twee maande voor sy 22ste verjaardag dat hy in 'n Volksie voor 'n vragmotor ingery het.

"Vreemd genoeg was ek nie daai keer onder die invloed nie." Aan sy gebreekte kakebeen en neus kon hulle iets doen, maar nie sy oë nie.

Dit was as 'n blinde man dat hy kitaar begin speel het, uiteindelik 'n uitlaatklep vir sy emosies gekry het en helder beelde met sy lirieke begin optower het. En dat hy sy voete gevind het, Standerton se stof van hulle afgeskud het en naam begin maak as die sanger Bacchus Nel.

As 'n mens vra oor die keuse van die naam, kan jy amper sien hoe hy die twee in sy kop weeg. "Stephen Nel, Bacchus Nel. Wat klink die beste?" Dit is die naam Bacchus wat hy vir sy demo-opname gekies het. Wat deel was van 'n groep opwindende jong kunstenaars op die CD Volk jou ook. En twee jaar later vlieg hy solo daarmee met In die arms van die nag, danksy Piet Botha en Lanie van der Walt.

"Dankie, Piet. Baie het gepraat van my help om 'n album te maak. Jy het dit gedoen."

Maar 'n mens vermoed daar lê meer tussen Stephen en Bacchus. Stephen, volgens sy eie bekentenis, was 'n bietjie van 'n droogmaker en 'n rebel.

"Ek was baie in Kamer 1," vertel hy droogweg. En voeg by: "Skool was fun. Ek het st. 9 twee keer gedoen." In daai tyd, sê hy, was dit nie cool om Afrikaans te wees nie en Afrikaanse musiek het ook nie juis aftrek gekry nie. "Ons was donker kinders." Stephen was 'n Pixies-man. Ná skool was daar 'n ruk op 'n kibboets (ongelooflik) en vir 'n wyle ook 'n poging om sy oorlewingsvaardighede in Londen te toets (nie baie suksesvol nie). En toe is hy terug Standerton toe. 'n Man sonder 'n idee wat hy met sy lewe wil doen.

Die lewe van die 29-jarige Bacchus wat voor my sit, is allermins uitsigloos. Bacchus kan met oortuiging sê: "Ek wil niks anders doen nie. Ek wil musiek maak. Ek wil goeie liedjies skryf."

Hy sê hy skryf hulle in sy kop. Hulle sit almal daar. Die klaar liedjies, die halwe liedjies, die idees. En hy put baie uit sy visuele geheue. "Ek skryf uit wat ek gesien het. Daar is lekker prentjies in my kop. En ek kan goed visualiseer as iemand vir my iets verduidelik." Dit is opvallend hoe visueel gedrewe sy liedjies is, pleks van die soetsappiger gevoelsgedrewe lirieke wat 'n mens soms kry. So vreemd soos dit klink, dié man het 'n oog vir detail.

Die onderwerpe waaroor hy skryf, sê hy, is soos sy dagboek. "Die daaglikse bestaan. Verbode liefde. Verlore liefde. Die stad en die platteland. Plekke met 'n interessante vibe." Indien 'n mens sou wonder, verklaar hy: "Centurion inspireer my glad nie om 'n liedjie daaroor te skryf nie." Dit is sy nuwe tuiste nadat hy vroeër in Sunnyside, Pretoria, gewoon het.

Hoewel hy en sy meisie, Brenda ('n kleuterskoolonderwyser), nou in 'n veilige kompleks bly, is dit nie ideaal geleë vir iemand wat blind en veral op sy voete aangewese is nie. "Soos om saam met my hond, Changa, kafee toe te stap." Dit was in Sunnyside die geval. "Dit is al wat ek mis van die platteland. In Standerton het ek oral geloop. Hier is die local bar nie so accessible nie."

Die enigste ding van blind wees wat hom onderkry, is juis dít, dat hy nie in 'n kar kan klim en gaan waar hy wil nie, dat hy afhanklik is van mense om hom te neem waar hy wil wees. "Maar verder kan blinde mense enigiets doen," sê hy. Behalwe miskien 'n lorriedrywer wees, waag ek dit. "Wil jy rêrig 'n lorriedrywer wees as jy kan sien?" wil Bacchus weet.

Hy sê hy is heel gelukkig. Vergenoegd. Vergeet soms hy is blind. "Dit is nie iets waaraan ek dink nie. En dan loop ek op 'n dag dwa! teen 'n kas vas, dan vloek ek. Maar ek vloek andersins ook."

Ek wonder of hy altyd van honde gehou het. Hy lag. "Ek is eintlik 'n katmens. Maar Changa is ongelooflik cool. Hy slobber nie oor mense nie. Ek is bitter lief vir hom. En hy blaf ook nie rêrig nie." Langs die swart Labrador lê die kat, Fuzzy, maar 'n mens is bewus van aanpassings en oorgange tussen Stephen en Bacchus. Hoe hy voel-voel na die vlam met sy vinger wanneer hy 'n sigaret opsteek. Hoe sy vinger die vlak van die kookwater in die koppie moet bepaal. Dit gee nuwe betekenis aan die uitdrukking "jou vingers verbrand". Hy glimlag net daaroor, dis 'n alledaagsheid.

Hy gaan steeds fliek, maar hiér het ook 'n verandering ingetree. 'n Ou gunsteling soos Quentin Tarantino werk nie meer nie. "Ek kon net stukkies van die Kill Bil-movies kyk, dit is baie visual. Maar noudat ek nie meer kan sien nie, hou ek baie van Dead Poets Society. Ek het nie destyds nie. Noudat ek groter geword het, verstaan ek dit. Mense verduidelik natuurlik vir my wat gebeur in flieks, maar soms raak ek aan die slaap en dan word hulle kwaad vir my."

En lees, lees hy ook ywerig, hoewel hy sê die boeke vir blindes is nie onbeperk nie. In Standerton het hy André P. Brink kafgedraf - van Die ambassadeur tot Duiwelskloof.

Om saam met sy meisie 'n boek te pak, is nie te prakties nie." 'n Mens het nie altyd dieselfde tyd lus vir lees nie. Sy lees vir my koerante en tydskrifte. Die onderhoude en resensies. My lewe het 'n ongelooflike rigting ingeslaan. Kyk, hier sit jy en voer 'n onderhoud met my."

Bacchus het sy musieknet ook baie wyer gegooi. Hy luister graag na musiek wat hom raak: Johnny Cash, Kris Kristofferson, Bob Dylan, Leonard Cohen, Lou Reed. Afrikaanse kunstenaars wat hom inspireer, is mense soos Riku Lätti, Brixton Moord en Roof Orkes en Gert Vlok Nel.

Een ding is seker: Bacchus Nel kyk anders na dinge. En daar is nie 'n gebrek aan humor nie. 'n Speelse ironie. In sy CD vind jy nie die lirieke nie, maar kunswerke ter illustrasie van sommige van die liedjies met die name daarop in braille geskryf. Die spreekwoord sê daar is niemand so blind soos hy wat nie wil sien nie. Bacchus is nie een van hulle nie.



Kry Rapport op jou Facebook-profiel

Kliek hier vir groot afslag as jy inteken op Rapport!


    Vind
Reis en Verblyf
Motor- & huisversekering
Kry R100 gratis by Piggs Peak
Werkgeleenthede
Afrikaanse boeke
Rapport-foto's
    Stem
Wanneer dink jy gaan die Suid-Afrikaanse ekonomie weer begin groei?

Resultate
Vorige Resultate
    Vind ou vriende
Kies jou skool se provinsie
en klik op die eerste letter van jou skool
A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z
Plaas jou GRATIS advertensie hier!
SOEK | KOOP | VERKOOP







Terug na bo